OUDTSHOORN NUUS - 'n Bekende egpaar van Colridge View, Oudtshoorn, Pat Wagenaar en sy eggenote, voorheen Rose Moos, het verlede Donderdag hul 50ste huweliksdag met 'n privaat biduur, nagmaal en geselligheid aan huis saam met familie en naaste vriende gevier.
Hulle is op 26 Maart 1970 deur eerw. David Moore van die destydse Independente Kerk in die huwelik verbind in die kerkgebou wat in die voormalige Koninginstraat, (Baron van Reedestraat) was waar Headlines nou is.
Wagenaar sê, net soos vanjaar was 26 Maart 1970 ook op 'n Donderdag. "Ek onthou toe ons vir die troue-afspraak opdaag, was die kerkdeur gesluit en daar was geen teken van eerw. Moore nie.
"Toe ek by juffrou Moore gaan verneem waar die eerwaarde is antwoord sy dat hy met hul hondjie gaan stap het. Ons was verplig om vir die eerwaarde se tuiskoms te wag."
"50 jaar sedert ons troue kan beide van ons maar net verklaar dat die Hand van die Groot Huweliksbevestiger duidelik in ons huwelik te sien was. Natuurlik al die dik en dun was ook daar, maar ons het deurgedruk," sê Wagenaar.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'