OUDTSHOORN - Ontmoet Desiré Byl, Collegians-rugbyklub se eerste vrouevoorsitter asook die eerste vrou wat hierdie gesaghebbende posisie in die geskiedenis van Oudtshoorn-klubrugby beklee.
Byl sê entoesiasties en trots dat sy al sedert die klub se ontstaan, amper 30 jaar gelede, 'n ondersteuner van dié klub is.
"Ek was nog altyd mal oor rugby en dis hoekom ek destyds al besluit het om in die bestuur te dien. Oor die jare het ek verskillende posisies in die bestuur beklee van sekretaris tot hulp-sekretaris tot tesourier. Ja, ek het ambisies gehad om eendag ook voorsitter te wees, maar ek het my kans geduldig afgewag want ek wou nie uit my eie uit hand opsteek nie - dit sou voor op die wa in my boek gewees het. So het dit dan gebeur dat die bestuur my verlede jaar genader het of ek die voorsittersposisie sou aanvaar, waarop ek gesê het dat ek bietjie tyd nodig het om na te dink. My rede was omdat ek die gewigtigheid van die posisie uit en uit verstaan en daarom my nie halsoorkop wou verbind nie. My liefde vir die klub, sy ondersteuners en sy spelers is ontsettend groot en daarom kan ek met 'n geruste hart verklaar dat ek meer as gereed is vir uitdagings wat voorlê," het sy gesê.
Byl sal hierdie posisie vir twee jaar beklee voordat 'n nuwe bestuur gekies word.
Haar pligte behels onder andere om die klub te verteenwoordig by SWD-rugbyvoetbalunie-sittings asook die handhawing van orde by vergaderings en sowel as die afteken van spanne plus jaarbeplanning in samewerking met uitvoerende bestuur.
Byl het voet by stuk gehou dat alhoewel Collegians verlede jaar agste uit 12 spanne in die SWD Super B-liga se punteleer geëindig het, sy vol vertroue is dat die klub die bordjies kan verhang en minstens in die topvier kan eindig.
"Enige klub se sukses hang grotendeels van die spelers se vaardighede en ingesteldheid af. Dis waar die bestuur inkom om seker te maak dat spelers sielkundig ondersteun word waar benodig en dat die werwingsspan soveel moontlik nuwe spelers inbring om hul vaardighede verder te slyp. Ek het geen twyfel dat Collegians weer na sy gloriedae kan terugkeer nie - alles is moontlik. Ons beskik oor 'n puik afrigtingskorps met donkiejare se ervaring wat vir ons goud werd is. Ek persoonlik het heelwat planne in die pyplyn hoe om ons klub ook meer winsgewend te maak, maar vir nou wil ek vir eers nie die aap uit die mou laat nie."
Die klub se oefeninge is tans volstoom aan die gang met die eerste opwarmingswedstryde wat binnekort by Zoar en Waboomskraal sal plaasvind.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’