Update
CALITZDORP NUUS - Om 'n boek te skryf is redelik maklik, om egter een te skryf wat die moeite werd is om deur 'n uitgewer aanvaar te word, is 'n ander saak. So het die skrywer Lynne Lexow, verlede Saterdagmiddag met die bekendstelling van Brenda van der Westhuizen se debuutpublikasie, Son, See en Saffier, gesê.
Van der Westhuizen se bundel, Son, See en Saffier, met outobiografiese vertellings, resepte en foto's is hierdie maand deur Naledi uitgegee en is Saterdag by Die Bakhuis in Calitzdorp bekendgestel.
Van der Westhuizen sê sy het aanvanklik nie beplan om 'n boek uit te gee nie, maar een van haar vertellings oor Gansbaai het oor die Kersseisoen in die gemeenskapskoerant in Gansbaai verskyn en is vir 'n aantal weke as 'n vervolgverhaal gepubliseer.
"Die reaksie daarop het my verstom en ek het toe uiteindelik, nadat mense my in die verlede gereeld aangemoedig het, besluit om my stories in 'n bundel saam te vat."
Sy sê die pandemie het haar in 2020 erg depressief gemaak en sy het op 'n stadium gedink sy gaan nooit weer normaal kan funksioneer nie. "Maar die reaksie op my storie in Gansbaai en die saamstel van die bundel het my uit daardie diep, donker, tyd gelig," het sy Saterdag aan die groep mense wat die bekendstelling bygewoon het, gesê.
Volgens haar is die stories almal outobiografies en strek oor dekades vanaf haar kinderjare in Gansbaai en omgewing tot in die laat 1980's. Die vertellings word met foto's toegelig en met tradisionele resepte afgewissel. "Die boek is meer as net stories, dit is my manier om die bittersoet van die lewe en hoe mense daarmee omgaan met lesers te deel," sê Van der Westhuizen.
Van der Westhuizen het 'n liefde vir boeke en woon gereeld bekendstellings van ander skrywers by. Haar aanvanklike motivering om ernstig te begin skryf was in 2016 toe sy 'n kortverhaal vir die Prins Albert-leesfees ingeskryf het. Sy het op daardie stadium op Prins Albert gewoon. "Die kommentaar van die beoordelaar was uiters positief en hy het my aangeraai om aan te hou met skryf."
Son, See en Saffier is by boekwinkels beskikbaar of kan direk by Brenda van der Westhuizen by 071 678 4292 bestel word.
Brenda van der Westhuizen teken 'n kopie van haar boek vir Mari Bester. Foto's: Hannes Visser
Vorige artikel: Calitzdorper stel boek bekend
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'