OUDTSHOORN NUUS - Die eerste geval van bek-en-klouseer is die week tussen Oudtshoorn en De Rust aangemeld.
Volgens Agri Wes-Kaap (AWK) en die Rooivleisprodusente-organisasie Wes-Kaap is die besmetting tydens 'n roetine-inspeksie geïdentifiseer voordat beeste vir deelname aan 'n veiling oorweeg is.
"Twee diere uit 'n kudde van 59 beeste het klein letsels aan die mond getoon, waarna monsters geneem is. Op 29 April is bevestig dat die diere positief vir BKS getoets het. Geen diere vanaf die betrokke plaas is na 'n veiling vervoer nie," het Rojeanne de Wet van AWK gesê.
Volgens dr. Cathy Fox, staatsveearts vir Oudtshoorn, behoort die besmette beeste aan 'n kleinboer aan die noordekant van Oudtshoorn.
Veeartsenydienste het reeds inentings en streng voorsorgmaatreëls ingestel om verdere verspreiding te voorkom.
Ongeveer 14 omliggende plase word tans besoek en gemonitor as deel van die beheerstrategie, terwyl veeartsenyspanne ook 'n radius van 10 km rondom die betrokke plaas ondersoek om seker te maak dat die virus nie versprei het nie.
"Die gebied het nie baie beeste nie, en ons doen alles moontlik om diere te toets en in te ent voordat die swaar reën begin."
Sy het bygevoeg dat nat toestande 'n risiko vir diere kan inhou, aangesien reën spanning veroorsaak en beserings tydens hantering kan verhoog.
De Wet sê verder dat voertuigbeheerpunte ook ingestel om die beweging van vee te monitor as deel van biosekuriteitsmaatreëls.
Tot dusver is 449 370 beeste in die Wes-Kaap en 42% van die Tuinroete se beeste ingeënt.
"Nuwe entstofvoorrade word strategies versprei na distrikte waar die meeste gevalle voorkom, met die doel om minstens 80% van die provinsie se kudde in te ent om kudde-immuniteit te bereik," aldus De Wet.
Produsente word dringend versoek om vir inentings vir hul kuddes aansoek te doen en streng biosekuriteitsmaatreëls op plaasvlak toe te pas om verdere verspreiding te voorkom.
Tydens Maandag se raadsvergadering het Oudtshoorn se burgemeester, Zoë Tyatya, bevestig dat owerhede die situasie ingevolge streng wetgewing bestuur. Die kwessie van rondloperdiere wat aan kleinboere behoort, is ook geopper, waarna Tyatya erken het dat dit 'n uitdaging bly en dat gesprekke met betrokke boere gevoer word.
Oudtshoorn Courant het reeds maande gelede navrae aan die munisipaliteit gerig oor die gebruik van die skut om rondloperdiere te beheer, 'n stap wat vroeër deur voormalige burgemeester Johan Allers as deel van BKS-voorkomingsmaatreëls aangekondig is.
Die munisipaliteit het steeds nie op navrae gereageer nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’