OUDTSHOORN NUUS - Eden Karoo Akademiese-leersentrum het onlangs 'n ou bus in 'n biblioteek, vir hulle leerders omskep. "Daar is 'n speelse simboliek tussen die bus en lees," vertel Ronelle Huysamen, skoolhoof van Eden Karoo.
"Lees het die vermoë om jou op vele reistogte te neem, en dit neem die kind uit sy huidige omstandighede na 'n ander omgewing."
Eden is 'n Artikel 18A, nie-winsgewende skool met skitterende jong onderwysers wat met nuwe idees vorendag kom. Die bus is toegerus met verskeie gemaklike sitplekke wat die leerder aanmoedig om 'n boek te neem en te lees.
"Ons is nog besig om boeke vir die busbiblioteek in te samel." Huysamen sê dat boeke geweldig duur geword het, maar dat hulle stadig maar seker die busbiblioteek sal vol kry met skenkings van die publiek.
Volgens Huysamen is lees onder jong kinders baie belangrik want dit help met taalontwikkeling, ontwikkeling van kognitiewe vermoëns, stimulering van die jong kind se verbeelding, verbeter skryfwerk, help met begrip, bou van 'n kind se karakter en verbetering van konsentrasie, om maar 'n paar voordele op te noem.
"Eden se leerders kan nie wag om deur die dag hierdie anderse biblioteek te besoek nie," vertel Huysamen opgewonde oor die skool se nuwe projek.
Leerders word aangemoedig om te lees.
Die bus se finale rusplek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’