Die drie memoranda is onderskeidelik gerig aan die waarnemende munisipale bestuurder, die ANC en die department van landelike ontwikkeling.
Volgens Leon Campher, bestuurder van die advieskantoor in Dysselsdorp, is daar reeds verlede week aansoek gedoen om die optog te hou, maar dit is deur die munisipaliteit afgekeur. Campher sê die inwoners is moedeloos oor die hoë werkloosheidsyfer en die feit dat daar geen huise in 25 jaar in die dorp gebou is nie.
"Ons het sewe dae voor die tyd aansoek gedoen en dis jammer dat die munisipaliteit die optog as onwettig sien. Ons het net genoeg gehad en ons hoop dat hierdie optog die betrokke persone sal help besef dat Dysselsdorpers moeg gesukkel is," het hy gesê.
Daar was geen amptenaar van die munisipaliteit beskikbaar om die een memorandum te ontvang nie en dit is aan 'n polisiebeampte oorhandig. Inwoners se klagtes is individueel in die memorandum aangeteken en handel ondermeer oor wisselvallige water- en elektrisiteitsrekenings en oor die feit dar daar bitter min lopende water vir huishoudelike gebruik is.
Volgens Campher hoop hy dat hulle binne 21 dae terugvoering gaan kry oor hul klagtes.
Die tweede memorandum wat aan Glenn Smit van die departement landelike ontwikkeling oorhandig is handel oor ontwikkelingsprojekte wat oor die afgelope twee jaar gekanselleer is.
Putco Mapitiza, die ANC se sekretaris in die Suid-Kaap, het die memorandum met klagtes oor April ontvang. Volgens die memorandum eis die advieskantoor dat die burgemeester ondersoek word en beveel hulle aan dat hy uit sy pos verwyder word.
Daar word melding gemaak van sy houding teenoor die gemeenskap en oor die 15 interdikte wat hy onlangs aan inwoners van Dysselsdorp gegee het. Hy word ook beskuldig van nepotisme omdat sy familie na bewering by die munisipaliteit aangestel is. Ander punte wat aangeraak word is die misbruik van sy magte as burgemeester en fondse wat aan Dysselsdorp gegee is vir projekte wat gekanselleer is.
Mapitiza het die die memorandum in ontvangs geneem en gesê 'n span sal aangestel word om die klagtes te ondersoek.
Volgens 'n verklaring van die munisipale woordvoerder, Ntobeko Mangqwengqwe, is die optog nie goedgekeur nie aangesien die sameroepers nie die voorgeskrewe prosedures gevolg het nie. Campher stem nie hiermee saam nie en sê op sy beurt dat hulle al die voorskrifte gevolg het.
In die verklaring word gesê die bewerings dat die burgemeester weier om miljoene rande vir ontwikkelingsprojekte af te teken is ongegrond aangesien die burgemeester nie belas is met goedkeuring van projekte nie.
Wat die bewerings rakende nepotisme betref, is daar in die verklaring gesê dat enige persoon met die regte kwalifikasies in enige pos aan-gestel mag word.
Verder lui die verklaring dat die aantygings wat beweer dat April sy magte misbruik baie vaag is en dat hy binne sy gede-legeerde magte optree.
Daar is ook in die verkla-ring gesê dat lede van die gemeenskap klagtes by die speaker van die munisipaliteit kan gaan indien sou hulle voel die burgemeester misbruik sy magte.

Putco Mapitiza, die ANC se sekretaris in die Suid-Kaap, ontvang een van die memorandums van Leon Campher.

Bykans 1 000 Dysselsdorpers het Woensdag voor die munisipale gebou in Dysselsdorp vergader om hul misnoeë met die burgemeester en dienslewering te kenne te gee.
ARTIKEL EN FOTO'S: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'