LADISMITH NUUS - Die polisie se volgehoue pogings om dwelms uit die gemeenskappe te hou het vrugte afgewerp.
Sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sê lede van die blitspatrollie, Attaqua-honde-eenheid en die Ladismith-polisie het Dinsdag ‘n intelligensie gedrewe operasie gehou en vier huise in Zoar en Sakkiesbaai, Ladismith, deursoek.
“Die span het 86 Mandrax-tablette, 79 sakkies tik en 6,19 gram tik tydens die operasie gevind. Vier verdagtes tussen die ouderdomme van 15 en 20 jaar oud is in hegtenis geneem.”
Die distrikskommissaris van die Tuinroete, genl.maj. Norman Modishana, het die lede vir hul optrede geloof.
“Dwelmmisbruik bly een van die hoofredes vir geweldsmisdaad en daarom sal soortgelyke operasies gereeld gedoen word om gemeenskappe veilig te hou,” het hy gesê.
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'