OUDTSHOORN NUUS - Pogings om dwelmhandel in die Wes-Kaap te stuit het die naweek positiewe resultate gewys na ses verdagtes in Prins Albert en Calitzdorp in hegtenis geneem is, en 'n groot hoeveelheid dwelms gekonfiskeer is.
Volgens kaptein Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het lede van die Sentraal-Karoo blitspatrollie en die provinsiale verkeersdepartement Saterdag voertuie naby Prins Albert deursoek.
"Die lede het 15 pakkies Swazi-dagga van 15 kg gevind. Die straatwaarde is ongeveer R122 300. 'n 48-jarige verdagte is in hegtenis geneem."
Later dieselfde dag het die lede 'n verdagte voertuig in Prins Albert opgemerk.
"Die voertuig is afgetrek en 10 sakkies tik met 'n straatwaarde van R18 200 en 522 Mandrax-tablette met 'n straatwaarde van R52 200 is gevind. 'n 33-jarige persoon is in hegtenis geneem."
Beide die verdagtes sal vandag in die Prins Albert-landdroshof verskyn.
Volgens Pojie het die polisie ook Vrydag 'n berigte dwelmhuis in 9de Laan, Calitzdorp, deursoek.
"Lede het 88 Mandrax-tablette op die perseel gevind. Die eienaar van die perseel en drie ander verdagtes is in hegtenis geneem. Hulle sal ook Maandag in die Calitzdorp-landdroshof verskyn."
Die Wes-Kaapse provinsiale bevelvoerder, lt.genl. Thembisile Patekile, het die lede vir hul harde werk bedank.
Die Swazi-dagga wat deur die polisie gekonfiskeer is.
Die dwelms wat die naweek deur polisie gevind is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'