OUDTSHOORN NUUS - 'n Inwoner van Oudtshoorn het gisteroggend, op sy verjaarsdag, 'n verrassing gekry toe 'n volwasse duiker in sy swembad beland het.
Volgens Hannes van der Westhuizen van Quarrystraat het hy omstreeks 07:00 wakker geword van 'n geplons in sy swembad. Sy huis is naby die veld geleë.
"Ek het 'n gespartel in die water gehoor en eers gedink dit is dalk ons hond wat in die swembad geval het, maar toe ek by die venster uitkyk, het ek tot my verbasing gesien dat dit 'n duiker is. My hond het al om die swembad gespring oor die vreemde ding wat in sy erf is."
Van der Westhuizen sê hy en sy vrou, Nicolene, het buite toe gegaan en gesien die wildsbokkie sukkel om uit die water te kom.
"Ek wou hom gaan help, maar ek het geweet ek gaan hom nie op my eie uit die swembad kry nie. Sy horings is té skerp en so klein soos die bokkies is, skop hulle 'n barshou."
Volgens hom het hy Mornay Thysse, van die brandweer, en Theresa van der Westhuizen, van CapeNature gebel, om hulp te vra.
"Toe hulle by die huis aankom het die bokkie sy weg uit die swembad gevind deur by die swembadtrappies uit te klim. Hy het onder ons afdak teen die muur gaan lê. Die arme dier was sopnat en doodmoeg. Ek kan net dink hoe bang hy moes wees."
Die swembad waarin die duiker, wat in die agtergrond lê, beland het.
Van der Westhuizen sê hy is nie seker hoe die duiker in die erf gekom het nie aangesien die mure té hoog is vir die bokkie om oor te spring. Hy vermoed die dier het deur 'n smal gaping tussen die muur en 'n hoë draadheinhing deurgeglip.
"Die vrou wat by ons in die huis werk het gesê sy het die bokkie gesien toe sy inkom, maar hy het eenkant in 'n hoek teen die heining gaan staan toe hy haar sien loop. Die bokkie moes die gaping tussen die muur en die heining gesien het en besluit het om te groet," skerts hy.
Van der Westhuizen, wat op 'n plaas groot geword het, sê hy het 'n groot liefde vir wilde diere.
"Ek het op die plaas baie met bokke te doen gekry en volgens spore in die tuin was die bokkie 'n geruime tyd daar. Ek vermoed hy het dalk van die hond probeer wegkom en het toe in die swembad gespring.
Hannes van der Westhuizen en sy vrou, Nicolene in wie se tuin 'n duiker op Hannes se verjaarsdag gaan kuier het.
"Dit is in hulle natuur om na die veiligheid van water te hardloop as hulle voel hulle word bedreig. Hy het dus heel moontlik die swembad as 'n veilige plek gesien toe hy die hond gewaar."
Met die hulp van Thysse en die span van CapeNature is die bokkie in 'n kombers toegedraai en weer in die natuur vrygelaat.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'