OUDTSHOORN NUUS - Drie uiteenlopende vroueskrywers het verlede Woensdag inspirerend oor hulself en hul skryfwerk gesels.
Die bekende skrywers, Diana Ferrus, Anzil Kulsen en Tania Smit was deel van Woensdag se Ommietafel-gesprek oor vrouwees wat deur die KKNK gefasliteer is.
Dit is 'n inisiatief van Afrikaans.com wat aan die ATKV verbonde is. René Arendse van Afrikaans.com het die gesprek in die Queen's Hotel gelei.
Die gesprek met die drie skrywers het betrekking op hulle skryfwerk gehad, maar daar is ook eerlike en reguit vrae aan hulle gestel; vrae oor kwessies wat universeel deur vroue ervaar word. Diana Ferrus se bekende gedig oor Saartjie Baartman, wat sy oorspronklik in Engels geskryf het, I've come to take you home, was deurslaggewend om Baartman se oorskot na Suid-Afrika terug te bring en Nelson Mandela het by geleentheid die gedig voorgelees.
Sy het gesê dat vroue 'n universele eendersheid met Saartjie Baartman deel. "Vroue ly nou nog onder die wankonsep van hoe vroue nie mag lyk nie," het sy gesê. Haar boodskap aan vroue is om te weet dat jy volmaak is soos wat jy is, nie soos wat ander jou sien nie.
Anzil Kulsen het as jeugboekskrywer in 2006 bekend geword met haar roman Zita wat intussen in skole voorgeskryf is. Sy het gesê dit was 'n moeilike pad om haar eerste boek te publiseer, maar sy het besluit dat dit al van haar kinderjare 'n droom was om 'n skrywer te word en sy het eenvoudig daardie droom gaan haal.
"Die samelewing kortwiek jou drome en ek moes talle kere ervaar dat my manuskrip afgekeur is, maar ek het geweier om op te gee. Jy moet besluit of jou droom goed genoeg is en dan moet jy eenvoudig net weer en weer probeer."
Sy het intussen 'n hele aantal boeke gepubliseer, maar haar groot vreugde lê daarin om haar skryfwerk te gebruik om veral die jeug te inspireer. Vir haar lê daar groot terapeutiese waarde in skryfwerk en sy erken dat die skryf van Zita vir haar 'n keerpunt in haar lewe was.
Tania Smit woon in Oudtshoorn en het haar twee boeke Hekelwoorde van my hart en Heelword self gepubliseer en reeds meer as
6 000 kopieë verkoop. Die boeke is gebore uit haar Facebook-blad, Hekelwoorde, wat meer as 40 000 volgelinge het. Sy sê sy skryf wat in haar hart gebeur en glo dat vroue wêreldwyd 'n universele taal praat. "Vroue praat hulle eie taal en elke vrou maak 'n bydrae tot daardie taal," het sy gesê.
Alhoewel die drie skrywers se skryfwerk en aanslag uiteenlopend is, het hulle boodskappe aan vroue 'n oorkoepelende tema. "Jy is genoeg. Wees jouself en moenie dat dit wat jy kan bereik deur ander gekortwiek word nie."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'