OUDTSHOORN NUUS - Kansa Oudtshoorn-tak se gemeenskapsmobiliseerder, Adri Odendaal, het verlede week drie toekennings tydens Kansa se algemene jaarvergadering ontvang.
Sy is as die Wes- en Suid-Kaap-besigheidseenheid se werkgewer van die jaar aangewys en het ook 'n toekenning vir volhoubaarheid in die Wes- en Suid-Kaap ontvang. Sy het 'n derde toekenning vir volhoubaarheid nasionaal ontvang.
Odendaal is alombekend vir die geldinsamelingsprojekte wat sy vir Kansa in Oudtshoorn reël en het selfs tydens die inperking skouer aan die wiel gesit om fondse te in.
Sy is al 'n jaar en 'n half deel van die Kansa-span.
"Dit is nie altyd 'n maklike werk nie, veral nie met ekonomie wat weens Covid-19 hard geslaan is nie, maar ek beskou my werk as 'n hartswerk. Ek het regtig 'n passie vir dit en geniet dit om met die gemeenskap te werk. Sonder die inwoners van Oudtshoorn sou dit nie moontlik gewees het nie. Al die verpleegpersoneel van die klinieke, Famsa en tuisversorgingsdienste is altyd bereid om te help en die dorp se mense ondersteun ons goed. Daarvoor wil ek elkeen uit my hart uit bedank."
Projekte wat Odendaal aanpak is ondermeer die 7 km Pienk en Blou-stap wat in November gehou is.
"Ons het so baie ondersteuning gehad en het goody bags aan die deelnemers uitgedeel. Sr. Potgieter het ook gehelp met die prostaat-spesifieke antigeen (PSA) -toetse wat gedoen is. Daar is ook 'n sonslim-bewusmakingspraatjie gehou. "
Haar volgende projek is die Carols by Candle Light, vanaand om 18:00 wat op die hoek van Langenhoven- en Voortrekkerweg gaan plaasvind.
Op 12 Desember hou hulle ook 'n Glow Night Run by Berluda Farmhouse and Cottages. Die registrasie begin 18:00. Kostes beloop R100 vir twee gloeistokkies met 'n ete of R60 vir twee gloeistokkies.
Die gewilde Relay for Life vind volgende jaar op 27 Februarie plaas.
Vir meer inligting oor die projekte kontak Odendaal by 072 133 0444.
Deelnemers aan die Pienk en Blou Kansa-stap. Foto's verskaf
Deelnemers aan die Pienk en Blou Kansa-stap. Foto's verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'