LADISMITH NUUS - Die erns van die Covid-19-pandemie het die afgelope maand weereens duidelik geword met die afsterwe van drie bekende vaderfigure in die gemeenskap.
Dolf Hartman van korrektiewe dienste, luitenant-kolonel Francois Linde van die SAPD en die sakeman, Henry Flink, het almal as gevolg van Covid-19 beswyk.
Dolf Hartman wat op 'n stadium as hoof van korrektiewe dienste in Ladismith waargeneem het, was reeds afgetree en het volgens kennisse en familie geen gesondheidsprobleme gehad nie.
Vir ’n voormalige kollega, Eldene le Roux, was Hartman 'n mentor en sy onthou hom as storieverteller van formaat. Hartman laat sy vrou, Myrtle, dogter Nadine en twee seuns agter.
Luitenant-kolonel Francois Linde het op 30 Julie gesterf. Sy eggenote Dawn, het kort voor sy dood gesê alhoewel Linde nog baie siek was, hulle geloof op herstel nog sterk is.Luitenant-kolonel Francois Linde van die SAPD.
In ’n Facebook-inskrywing skryf ’n kollega, Bennet de Wee, dat Linde, “altyd in my geglo het en kon ek kolonel in die nag wakker bel vir advies rondom ’n saak en het hy gehelp. So ’n tipe mens was die kolonel”.
Linde se dogter, Franzel, skryf op Facebook: “Ons harte bloei vanaand, maar ons het vrede dat pa die wedloop op aarde voltooi het. Dankie dat ons Jesus in pa se hart en pa-wees kon sien.
'n Dag later, op 31 Julie deel Raymondo Flink, oudste seun van die sakeman Henry Flink, die nuus dat sy pa ook aan Covid-19 beswyk het. “My pa, vir drie weke kon ek jou nie sien nie, nie met jou praat nie en dit was vir my baie hartseer. Die nuus van jou afsterwe het my gebreek.”
Flink was nie net 'n sakeman nie, maar ook n gemeenskapsmens. Hy het onder andere gesorg dat die Ladismith-rugbyklub weer ’n tweede lewe kry en het die klub ruim geborg.
Hartman is reeds ter ruste gelê, maar begrafnisreëlings vir Flink en Linde was teen druktyd nog nie bekend nie.Henry Flink
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Klein Karoo nuus'