OUDTSHOORN NUUS - Vir Cindy Dreyer is onderwys veel meer as net 'n beroep, dit is 'n roeping om leerders te help om in hulself te glo.
Sy het Vrydag 28 Augustus 'n besondere erkenning ontvang toe sy tydens die 2026 Nasionale Onderwystoekennings in Kaapstad as die Wes-Kaapse provinsiale wenner vir uitnemendheid in inklusiewe onderrig aangewys is.
Dreyer, vakhoof vir wiskunde aan Oudtshoorn Vaardigheidskool, is vir haar werk met leerders met uiteenlopende leerbehoeftes vereer.
Met uitgebreide ervaring in spesiale behoeftes-onderwys en 'n kwalifikasie in sielkunde, pas Dreyer haar onderrig aan om seker te maak dat leerders die werk op 'n manier verstaan wat vir hulle sin maak. Sy gebruik onder meer tegnologie, speletjies en praktiese aktiwiteite in haar wiskundeklas.
Volgens Alsje Schoeman, adjunkhoof van die Vaardigheidskool en Dreyer se nomineerder, is dit juis haar vermoë om elke leerder se behoeftes raak te sien wat haar besonders maak.
"Sy bring nuwe konsepte binne die leerder se eie verwysingsraamwerk en glo sterk daarin om van konkrete ervarings stelselmatig na meer abstrakte bewerkings te beweeg," sê Schoeman.
Dreyer gebruik onder meer Slangetjies en Leertjies en wiskundekompetisies om wiskunde meer prakties en interessant te maak. Sy het ook onlangs begin om kunsmatige intelligensie te gebruik om lesse vir verskillende kognitiewe vlakke voor te berei.
Haar betrokkenheid stop egter nie by die klaskamer nie. Sy is by atletiek en kultuur betrokke, reël uitstappies en uitreike en skep geleenthede waar leerders verantwoordelikheid kan neem en leierskap kan ontwikkel.
Sy het ook as verteenwoordiger van die Nasionale Skoolvoedingsprogram 'n skooltuin gevestig waar leerders praktiese kennis van tuinbou, entrepreneurskap, volhoubaarheid en voedselsekerheid opdoen.
"Wat haar egter besonders maak, is dat sy dit alles met 'n nederige karakter en opregte liefde vir leerders doen. Sy doen baie van haar werk stilweg en sonder om erkenning daarvoor te verwag," sê Schoeman.
Vir Dreyer self was die aankondiging 'n oomblik van groot dankbaarheid.
"Dit is vir my 'n groot eer en 'n bevestiging dat die werk wat ons elke dag doen 'n verskil maak. Ek sien dit nie net as my prestasie nie, maar as 'n erkenning van die hele skool, my kollegas en veral my leerders."
Vir haar gaan onderwys oor die mense agter die punte en prestasies.
"Dit is my passie en my roeping. Om 'n leerder te help groei, selfvertroue te bou en sy of haar potensiaal te ontdek, is vir my ongelooflik kosbaar."
Dreyer sê haar leerders leer haar terselfdertyd baie.
"Elke leerder is uniek en het sy of haar eie uitdagings, drome en vermoëns. Hulle leer my net soveel as wat ek hulle leer. Om deel te wees van hul reis en te sien hoe hulle ontwikkel en in hulself begin glo, is een van die grootste voorregte van my beroep."
Oudtshoorn Vaardigheidskool rus leerders uit met praktiese vaardighede vir die beroepswêreld en bedien leerders uit die Klein- en Sentrale Karoo. Opleiding word onder meer in sweiswerk, messel- en pleisterwerk, onderhoud, gasvryheid, haarkappery en houtwerk aangebied.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’