Update
OUDTSHOORN NUUS - Jeffery Donson, burgemeester van die Kannaland-munisipaliteit, het laat gistermiddag ‘n verklaring oor die dood van Morné Hoogbaard, die munisipale bestuurder uitgereik.
Hoogbaard se oorsaak van dood is nie bekendgemaak nie.
Luidens dié verklaring “het hy bydraes van onskatbare waarde tot die gemeenskap gelewer.”
Volgens Donson laat hy met sy dood ‘n definitiewe leemte in die gemeenskap.
“Hoogbaard was ’n geliefde seun van ons dorp. Hy was sedert 2010 in Kannaland betrokke en sy bydrae tot die munisipaliteit was enorm. Hy laat ’n onuitwisbare merk op Kannaland-munisipaliteit,” het hy in sy verklaring gesê.
Volgens Donson het Hoogbaard gedurende sy ampstermyn ’n aansteeklike passie en toewyding in sy werk getoon.
“Hy was nie slegs ’n bevoegde munisipale bestuurder nie, maar werklik ’n persoon met ’n warm persoonlikheid, wat toeganklik vir sy gemeenskap was. Tydens sy leierskap het die gemeenskap groei getoon en is ’n beter infrastruktuur geskep. Hoogbaard het ook die lewens van die inwoners van die landelike gebiede verbeter.”
Donson het hul meegevoel met sy familie gedurende hierdie hartseer tyd gedeel.
Swaard oor sy kop
Hoogbaard en drie ander senior amptenare van Kannaland is in November 2021 vir beweerde bedrog van R338-miljoen by die munisipaliteit in hegtenis geneem en die saak duur steeds voort.
Donson is in Februarie vanjaar heftg gekritiseer nadat Hoogbaard weer as munispale bestuurder by Kannaland aangestel is met die bedrogklagte steeds soos 'n swaard oor Hoogbaard se kop. Die staat beweer dat die vier beskuldigdes hulself verryk het deur ondermeer bedrieglike aanstellings in senior poste te maak asook onregmatige oortyd- en verlofuitbetalings.
Hoogbaard was ook eens op 'n tyd waarnemende munisipale bestuurder van Eden-distriksmunisipaliteit, deesdae Tuinroete-distriksmunisipaliteit.
Vorige artikel: Morné Hoogbaard sterf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’