OUDTSHOORN NUUS - Die personeel van die departement van korrektiewe dienste (DKD) op Oudtshoorn het verlede week as deel van hul uitreikingsprogram na die gemeenskap by verskeie skole op Oudtshoorn en die distrik skoolklere aan behoeftige leerders uitgedeel.
Volgens die koördineerder van die projek, Norman Lodewyk, is dit die inisiatief van die Suid-Kaapse areakommissaris van die departement korrektiewe dienste (DKD), Ndileka Booi.
Elke personeellid het weer hand in die sak gesteek vir 'n bydrae om die klere aan te koop."Dit is vrywillig maar elke lid dra by," sê Lodewyk.
Vanjaar is skoolklere aan 145 leerders van 17 skole in die Oudtshoorn-omgewing geskenk.
Volgens Phillip Busch, hoof van Oudtshoorn korrektiewe dienste is daar vanjaar besluit om baie meer skole te betrek en ander staatsinstellings word ook genader om aan die projek deel te neem.
Leerders van Aurial Kollege saam met personeellede. Voor saam met leerders sit Tshazibana Weziwe (assistenthoof van die Oudtshoorn DKD), Karin Alexander (waarnemende hoof: Aurial Kollege), Sophy Moos (Wes-Kaapse onderwysdepartement), en Phillip Busch, hoof van Oudtshoorn Korrektiewe Dienste. Foto: Garnett Wicomb
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'