Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Hennie het onmiddellik geweet dat daar groot fout is toe sy swanger vrou, Cara, hom in die nagtelike ure van 6 Julie wakker maak en hom meedeel dat sy begin bloei het. Hy het net daar besluit dat hy in ’n rekordtyd sy vrou en ongebore kind by Mediclinic George moet kry.
Cara Theron, 'n onderwyseres by De Villiers Primêr en Hennie Theron, 'n verkoopsagent by die Van Der Walt Groep in Oudtshoorn, is die trotse ouers van Carnie wat op 27 weke gebore is.
FOTOGALERY: Carnie op 27 weke gebore
Carnie het met geboorte 1,165 kg geweeg, was 36 cm lank en bitter klein. Cara vertel dat hulle die vorige naweek haar ooievaarstee gehou het en dat al die geskenke nog in die motorhuis was om later gewas en uitgepak te word.
Ek het nog nie eens haar kamer reg gehad nie - die hospitaaltassie was nog nie gepak nie. Carnie moes eers op 7 Oktober gekom het, dis 'n hele drie maande te vroeg," sê Cara.
Die trotse ouers kon hulle dogtertjie eers later die oggend van haar geboorte, vir die eerste maal besoek. Die dokter het hulle meegedeel dat Carnie dit moontlik nie sou gemaak het, indien hulle 30 minute later was nie. Cara vertel dat haar liggaam en kop nie wou saamwerk met die geboorte nie.
"My liggaam wou druk, maar my brein het baklei en gesê dat Carnie nog te klein is en binne moet bly. Dit was alles so onwerklik, ek het nog nie eens 'n groot magie gehad nie."
Cara skenk van haar melk
Terwyl jy met Cara gesels word dit duidelik dat sy passievol is oor borsvoeding en alhoewel Carnie te klein is om geborsvoed te word, kan sy darem van Cara se melk deur 'n pypie inneem.
"Ek het gelukkig genoeg melk om aan Carnie te gee, ek het eintlik te veel."
Cara vertel dat sy van haar melk aan ander babas skenk waar die ma nie melk het om aan haar baba te gee nie - volgens Cara is borsmelk uiters belangrik vir vroeggebore babas.
"Om die voorreg te hê om ander babas ook te help is werklik vir my 'n wonderwerk. Ek wil ander mammas, wat ook genoeg melk het, aanmoedig om melk te skenk."
Carnie vorder goed
Cara vertel dat Carnie tans 2,2 kg weeg en dat sy op 22 Augustus haar 2 kg merk bereik het.
"Sy is op 52 dae uiteindelik van suurstof af, ons is so dankbaar dat God nog net goed was vir haar."
Wanneer jy vra wanneer Carnie huis toe kom, antwoord Cara dat alles van Carnie se vordering afhang, en dat sy nog haar suigrefleks moet ontwikkel wat eers na 34 weke ontwikkel.
"Sy is amper gereed om dit te doen," sê Cara dankbaar.
Hennie by sy dogtertjie, Carnie.
Cara by haar dogtertjie, Carnie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'