KAROO NUUS - Die jaar lê so te sê op sy rug sover dit skole betref. Die laaste punte word op bylaes ingeskryf en oral skarrel die laatslapers om uitstaande take in te handig, want daar mag nie nulle op die bylae wees nie. Die eindeksamen is op hande.
Die gr. 12's veral, maar ook die ander grade, het teen hierdie tyd reeds hul plan van aksie in plek nadat hulle die voorbereidende eksamen van September se uitslae behoorlik ontleed het.
Hulle weet in watter vakke hulle sterk is en vir watter vakke hulle meer tyd op die studierooster moet inrig. Roosters is opgestel en studeertye is uitgewerk.
Ouers en onderwysers is natuurlik almal saam met die leerder deel van die plan om die leerder met vlieënde vaandels oor die laaste hekkie te kry.
Die leerders met gemoedsrus studeer gewoonlik die maklikste. Dis die leerders wat sterk vertoon het deur die jaar. Hulle is vol vertroue en derhalwe gemotiveerd, veral as hulle 'n sterk ondersteuningsbasis het. Ouers en onderwysers weet watter leerders ondersteuning nodig het en maak seker in die laaste weke op skool dat die vlakke van selfvertroue aansienlik verhoog word.
Waar leerders probleme in byvoorbeeld huislike omstandighede ondervind, stel baie skole klaskamers beskikbaar op vasgestelde tye waar sulke leerders sonder steurnis en onder toesig kan studeer.
Baie skole se beheerliggame het sulke stelsels in plek om seker te maak hul matriekkandidate veral is goed voorberei wanneer hulle by die eksamenlokaal opdaag.
Die res van die skool word gou aangesteek met matriekeksamen koors. 'n Stilte daal op die hele skool neer. Dis nou makliker om met die junior klasse te praat oor eksamengereedheid as vroeër. Hulle sien hoe die seniors dit doen. Almal verstaan die strategie - vir alles in die lewe moet mens 'n plan hê.
Hoe vroeër jy met jou persoonlike plan begin, hoe makliker is die matriekeksamen wat wag oor 'n paar jaar. Dís die geheim.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'