OUDTSHOORN NUUS - Die afgelope aantal weke is Oudtshoorn se amptelike slangvanger, Mornay Thysse, op 'n daaglikse basis ontbied om slange by huise in en rondom Oudtshoorn te vang.
Thysse sê hierdie tyd van die jaar begin slange baie aktief raak en kom veral voor by huise op die buitewyke van die dorp en in landelike gebiede.
Thysse wat in diens is van die Oudtshoorn-brandweer, word so dikwels uitgeroep om slange te vang dat sy toerusting onlangs uitgebrei is en sy voertuig ook bykomende kentekens gekry het om hom as slangvanger te identifiseer.
Met sy wye ervaring in die hantering van slange gee Thysse die volgende riglyne om toe te pas wanneer inwoners slange aantref:
- As voorsorg wees bewus daarvan as daar muise en paddas in jou omgewing is. Dié diertjies is slange se voedsel en sal slange lok. Dit geld ook vir klein voëltjies wat dalk in hokke op erwe aangehou word.
- As jy ’n slang in jou huis vind, is dit belangrik om kalm te bly.
- Alhoewel nie alle slange giftig is nie, is dit raadsaam om elke slang as potensieel giftig te beskou as jy nie die verskillende slangspesies ken nie.
- Moenie probeer om die slang te vang, vas te keer of dood te maak nie aangesien die slang homself sal probeer verdedig deur te pik sodra hy bedreig voel.
- Kry jou kinders, gesinslede en troeteldiere uit die onmiddellike omgewing en behou 'n afstand van ten minste drie meter tussen jou en die slang.
- Skakel die brandweer se noodnommer 044 203 7800 so gou as moontlik sodat 'n slangvanger uitgestuur kan word.
- Slange se eerste reaksie is om weg te beweeg van enige beweging en in die naaste beskutte en donker plek sal gaan skuil.
- Probeer die slang van 'n veilige afstand dophou om vir die slangvanger 'n aanduiding te kan gee van waar dit moontlik wegkruip.
- Indien jy deur 'n slang gepik word probeer 'n foto van die slang neem vir identifikasiedoeleindes en kry onmiddellik mediese hulp.
- Beperk beweging, bly kalm en moenie die wond sny, daaraan suig of enigiets daarop sit nie.
- Daar is 'n klein aantal giftige slange in die Klein-Karoo waarvan die Kaapse kobra die giftigste is. Sy gif versprei vinnig en lei tot ernstige asemnood.
- Mense wat in 'n omgewing woon waar slange gereeld voorkom word aangeraai om 'n basiese slangkursus te voltooi. So 'n kursus sluit basiese noodhulp in die geval van slangbyte in. Kontak die brandweer vir meer inligting hieroor.
Die slang is in 'n boom naby 'n woonhuis aangetref.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'