OUDTSHOORN NUUS - Vir die eerste keer vind die poësie 'n plek van haar eie vir die duur van die KKNK. Die Santie de Jager-digtersden is 'n nuwe inisiatief van die KKNK om die digkuns tydens die fees te laat leef.
Hierdie nuwigheid vind in 'n opwip-venue by die Uitkampteater voor die burgersentrum plaas. Die venue word ter nagedagtenis aan Santie de Jager, na haar vernoem. Santie, wat as die Karoo-engel beskryf is, het 'n passie vir digkuns gehad en sy was 'n belangrike rolspeler aan die begin van die KKNK, wat met ywer gewerk het om die gemeenskap van Oudtshoorn by die fees te betrek.
Feesgangers kan hier vir vyf dae kom luister na opkomende, gevestigde sowel as plaaslike digters en skrywers wat hulle eie werke voorlees. Sommige akteurs sal van hulle gunsteling poësie voorlees en hier en daar gaan daar ook plek wees vir bietjie musiek.
Twee plaaslike digters, Hannes Visser en Poem Mooney is die samestellers van die program wat daagliks vanaf Dinsdag 24 Maart tot Sondag 29 Maart aangebied word.
Aanbiedinge sal soos met die geval van Uitkampteater-produksies tussen 10:00 en 12:00 en dan weer vanaf 15:00 tot 19:00 plaasvind.
Digters, skryfkringe, diggroepe van Oudtshoorn en omliggende dorpe word genooi om solank met Hannes Visser by 083 467 1522 en Poem Mooney by 083 590 2740 kontak te maak aangesien die finale program in Januarie gefinaliseer word.
Hannes Visser.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'