Update Video
OUDTSHOORN NUUS en VIDEO - Mits dit nie binne die volgende paar dae in Meiringspoort reën nie, sal grootskaalse dieselbesoedeling van die poort beperk kan word.
Dit was die indruk van opruiming-spanne wat hierdie week gespook het om te verhoed dat ongeveer 35 000 liter diesel, wat in die Grootrivier beland het, stroomaf spoel.
Meer as 40 000 liter het uit 'n tenkwa gestroom toe dit op 'n draai in Mei-ringspoort omgeval en gebars het. Die ongeluk het Dinsdag net na 11:00 sowat 6 km anderkant die Meiringspoort waterval gebeur.
Alhoewel 'n groot deel van die diesel in die sand langs die pad weggesak het, het na raming ongeveer 35 000 liter in die rivier beland. Spanne van Eden-rampbestuur het onmiddellik versperrings in die rivier opgerig om te verhoed dat die diesel stroomaf vloei. Die rivier is gelukkig baie laag en vloei nie sterk nie.
'n Maatskappy, Spill Tech, wat daarin spesialiseer om hierdie tipe besoedeling op te ruim, is deur die eienaars van die vragmotor aangestel om die rivier skoon te kry.
Met 'n besoek van die Oudtshoorn Courant aan die toneel Woensdag-oggend, was 'n span van Spill Tech besig om keerwalle ongeveer 2 km stroomaf van die ongelukstoneel aan te bring. 'n Toesighouer van die maatskappy het gesê die keerwalle is 'n voorsorgmaatreël indien dit sou reën en die rivier sterker begin vloei.
Dit blyk dat die meeste diesel in 'n strook van ongeveer 500m van die rivier teenwoordig is. Woensdag-oggend is damme in die rivier gebou waarin die besoedelde water opgevang kon word voordat dit uitgepomp word.
Volgens die span van Spill Tech sal aanvanklike opruiming ongeveer twee weke neem, maar dit kan maande duur om die rivier heeltemal skoon te kry.
Die vragmotor wat omgeslaan het behoort aan 'n vervoermaatskappy in Barkly-Wes. Die maatskappy se woordvoerder, Pieter van Eck, het Donderdagoggend gesê die bestuurder van die vragmotor, Anton Chirodzero, word in die George-hospitaal vir 'n beenfraktuur behandel. Die vragmotor was vanaf Mosselbaai na Beaufort-Wes met die vrag diesel onderweg toe die ongeluk gebeur het.
Volgens Nina Viljoen, omgewingspesialis van Eden-distriksmunisipaliteit loop natuurlewe gevaar van vrektes as gevolg van die besoedeling.
Sy is veral besorg oor die rooivinvis, 'n bedreigde spesie wat in die Grootrivier teel. Daar is ook 'n gevaar dat vee en wild, wat in die omgewing van die besoedeling is, die besoedelde water kan drink en vrek.
Volgens haar sal CapeNature 'n aqua-spesia-lis aanstel om die impak op waterlewe te bepaal. Die hulp van 'n geo-hidroloog sal ook ingeroep word om Spill Tech by te staan.
Kyk 'n video hieronder.
ARTIKEL & VIDEO: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'