TUINROETE DISTRIKSNUUS - Die vraag of sogenaamde plaasdiere, wat meestal vir voedseldoeleindes gebruik word, in 'n dorp aangehou mag word, het al dikwels ontstaan.
Haemish Herwels van die Garden Route-distriksmunisipaliteit se gesondheidsafdeling het die volgende inligting verskaf.
Diere mag by drie plekke aangehou word, naamlik landelike gebiede, buitestedelike gebiede en op 'n residensiële erf.
Daar is egter streng wetgewing en plaaslike verordeninge hieroor, nie net om die aanhou en slag van diere te reguleer nie, maar ook om die gesondheid en die welsyn van die algemene publiek te beskerm omdat die aanhou en slag van diere met slegte reuke, vliegbroeiery en/of die uitbraak van siektes geassosieer word.
Landelike gebiede
Wetgewing is gewoonlik nie baie voorskriftelik met die aantal diere wat op 'n plaas aangehou mag word nie, maar die kwessie van genoegsame weiding en waterbeskikbaarheid word wel aangespreek. Indien die diere op hok aangehou word, is daar verskeie riglyne wat deur die departement van landbou saamgestel is wat die ligging, die tipe struktuur en die aantal diere wat aangehou mag word, reguleer.
Buitestedelike gebiede
Dit vind gewoonlik op die grense van 'n dorp plaas en baie keer is dit slegs 'n pad wat die landelike strook van die dorpsgebied skei, wat die ontstaan van gesondheidsoorlaste en gevare verhoog. Op so 'n gebied word die toestemming vir die aanhou van diere gewoonlik deur die plaaslike B-Munisipaliteit, in oorleg met die distriksmunisipaliteit verleen.
Vanuit 'n munisipale gesondheidsperspektief word die nodige vereistes gestel om enige gesondheidsoorlaste en/of gevare en omgewingsbesoedeling te voorkom.
Met betrekking tot diere wat in 'n kamp vry rondbeweeg, moet maatreëls in plek gestel word om vliegbroeiery te voorkom.
Wanneer diere soos varke of hoenders op hok aangehou word is die volgende vereistes van krag:
- Die struktuur moenie onooglik wees nie en moet duidelik met die naam en adres van die eienaar gemerk wees;
- Die vloeroppervlak moet van sement of beton vervaardig wees en met 'n afloop aan 'n goedgekeurde beskikkingstelsel gekoppel wees vir die wegdoending van afvalwater.
- Die afloopwater kan aan 'n rioolstelsel, septiese tenk of 'n suigtenk gekoppel wees. Indien 'n suigtenk gebruik word, moet die nodige reëlings met die plaaslike munisipaliteit getref word vir die uitsuig daarvan.
- Genoeg water moet beskikbaar wees vir skoonmaakdoeleindes.
- Geen opeenhoping van mis buite hokke, asook buite die afgebakende areas.
- Geen opdamming van afvalwater rondom hok of omliggende areas.
- Vliegbroeiery moet ten alle tye beheer word deur plaagdoders te spuit om volwasse vlieë asook larwes te beheer.
Op residensiële erf
Die meeste munisipaliteite het verordeninge wat riglyne vir die aanhou van diere, met die uitsondering van troeteldiere, op 'n residensiële erf uiteensit en hierdie verordeninge moet streng gevolg word.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'