DE RUST NUUS - 'n 21-jarige man van De Rust wat aan diefstal skuldig bevind en drie jaar gevangenisstraf opgelê is, is Vrydag in die Oudtshoorn-landdroshof verlof toegestaan om teen die vonnis te appelleer.
Werner Goliath het tussen 26 en 27 Januarie vanjaar by die woning van Eunice Strydom ingebreek en juwele ter waarde van R15 000, 'n dataprojektor, leerbaadjie, rugsak, melk en 'n pak spaghetti gesteel. Die saak teen 'n medebeskuldigde, Gaylin Louw, is deur die staat teruggetrek.
Goliath is 'n vonnis van drie jaar ingevolge Art 276 B opgelê wat bepaal dat hy na die uitdiening van twee-derdes van die vonnis (24 maande) om parool aansoek kan doen.
Sy regshulpprokureur, Cindy Smith, het in die aansoek die mening uitgespreek dat 'n ander hof moontlik tot 'n ander bevinding kan kom. Die vonnis word as té swaar beskou. Landdros Theo-lin November het verlof om teen die vonnis te appelleer toegestaan.
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Klein Karoo nuus'