OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn Courant se nuusberigte geniet toenemend belangstelling op die koerant se webwerf. Volgens 'n analise van vanjaar se berigte het die volgende tien nuuswaardighede die meeste lesers getrek:
Top 5 stories in Oudthoorn van 2018:
1. Die moord op Preston Titus
Stafsersant Preston Titus is op 2 Desember 2017 in sy huis op die weermagbasis vermoor.
Magdaleen (Maggie) Titus, Preston se vrou en bekende ANC-raadslid was saam met hom en een van hulle twee minderjarige kinders, Amoré in die woning op die weermagbasis ten tye van die moord.
Penelope, hul oudste dogter, was by 'n partytjie. Preston is 27 keer met 'n mes gesteek en ook met 'n stomp voorwerp geslaan.
Sixabiso Klip en Nastasha Stuurman was eerste in hegtenis geneem. Justice Mooi, Masithembe January en Maggie is na hulle in hegtenis geneem.
'n Sesde verdagte, slegs bekend as Vusumsi, is steeds soek en is ook na bewering een van die beweerde huurmoordenaars. Klip het in Januarie 'n pleitooreenkoms met die staat aangegaan.
In sy pleitverduideliking het hy die beplande moord op Preston uiteengesit en ook aangedui dat Maggie die baasbrein agter die moord is.
Magdaleen Titus Foto: Liezl van Niekerk.Hy het ook die beweerde moordenaars rondgery en Mosselbaai toe geneem na die moord. Hy is tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis. Mooi is steeds in aanhouding. Hy is na bewering een van die huurmoordenaars. January het aan die Oudtshoorn Courant tydens 'n besoek in Februarie, erken hy was in 'n verhouding met Maggie en het na bewering die twee vermeende huurmoordenaars, Justice en Vusumsi, aan Maggie in Port Elizabeth voorgestel.
Hy is op 14 September op borgtog van R10 000 vrygelaat na hy geappeleer het.
Stuurman, 'n goeie vriendin van Maggie, het na bewering die vermeende huurmoordenaars gehuisves. Sy is in April vanjaar op borgtog van R15 000 vrygelaat en het intussen aan 'n dogtertjie geboorte geskenk. Hulle verhoor begin op 25 Februarie in die rondgaande hoogeregshof in Oudtshoorn.
Ricardo Fourie.
2. Tref-en-trap-slagoffer sterf
Ricardo Fourie se dood in Januarie vanjaar het skokgolwe deur die dorp gestuur. Carthy, soos Fourie onder geliefdes bekend was, is op 9 Januarie oorlede na 'n bakkie op 5 Januarie in Swawellaan oor hom gery het.
John Donson, die bestuurder van die bakkie, is aanvanklik vir poging tot moord in hegtenis geneem, maar die klag is na moord verander.
Carthy was die pa van vyf kinders. Donson se verhoor sal op 16 Januarie in die Oudtshoorn-streekhof begin.
Jean-Pierre Oosthuizen.
3. Oudtshoorniet sterf na voorval in Mosselbaai
Jean-Pierre (Boom) Oosthuizen. 'n bekende oudinwoner van Oudtshoorn is in Juliemaand oorlede na 'n voorval by 'n restaurant in Mosselbaai.
Hy en nog 'n persoon was in 'n bakleiery betrokke waartydens Oosthuizen ernstig beseer is.
Hy was aanvanklik in die Life Bayview-hospitaal in Mosselbaai opgeneem en is die volgende dag ontslaan.
Hy is 'n paar dae daarna by sy huis oorlede.
Die ou tolhuis op die Montagupas is in die brande vernietig. Foto: Allen Jorgensson.
4. Oorsprong van verwoestende brande bekend
Die brande wat duisende hektaar grond, strukture en huise in Novembermaand in die Herold, George en Knysna-omgewing geëis het, het paniek gesaai.
Agt mense het in Karatara in die vernietegende brande omgekom en talle mense is dakloos gelaat. Dit was slegs 18 maande na die Knysna-brande wat steeds vars in almal se geheue was.
Die brande wat aanvanklik in die Herold-omgewing begin het, was volgens Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelings-beplanning, brandstigting en weet hulle waar dit begin het en wie dit begin het.
Ander brande wat later versprei het is deur weerlig veroorsaak.
Phillip Draai.
5. Man deur veghonde verskeur
Phillip Draai (62), is in Juniemaand deur twee Amerikaanse veghonde by 'n huis in die weermagbasis verskeur.
Hy het blare in sy suster, Cathleen Dido, se erf gehark toe die twee veghonde hom aangeval het. Die veghonde het aan 'n man wat in dieselfde straat woon, behoort. Die honde is kort na die voorval deur 'n veearts uitgesit.
Die ander nuusberigte wat onder die jaar se top tien op die web was:
6. Vrou sterf in botsing. Die botsing het naby Holgate by die T-aansluiting op die George-pad gebeur. (28 Oktober)
7. Man van 22 steek ouma en ma met mes. Die ouma is na die voorval oorlede.(11 November)
8. Gastehuiseienaar sterf in botsing. Die bekende sakeman en fietsryer, Louis Lategan is in 'n botsing ongeveer 2 km van sy gastehuis af op die grottepad dood. (29 Maart)
9. Man beseer in botsing. Die botsing op die hoek van Voortrekkerweg en Baron van Reedestraat was as gevolg van spoed. (16 September)
10. Vrou doodgery naby Kangogrotte. Die vrou en haar man het in die middel van die pad gestap toe sy deur 'n motor getref is. (10 Maart)
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'