Update Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Vier vrouens wat dit jaarliks hulle missie maak om ordentlik fees te vier staan onder feesgangers as die Feeskatte bekend.
Hulle vermaak elke jaar feesgangers met hul humoristiese T-hemde en kleurvolle verehoede.
Een van hulle het reeds al 24 kunstefeeste bygewoon. Lippies Koekemoer, die oudste kat van die trop, sê hulle was aanvanklik skrikkerig omdat die fees vanjaar veranderinge ondergaan het. 'n Tweede lid van die groep, Dr. E, is die afgelope 18 jaar saam met Lippies by die fees.
Koekie von Blik het 'n paar jaar later bygekom en Sally Langkloof is die nuutste lid.
"Sally is ons jong bloed. Soos die fees deur veranderinge en vernuwings gaan, moet ons ook aanpas en ons probeer kultuur ook by nuwelinge kweek," spot Koekemoer.
Die Oudtshoorn Courant het hierdie week met hulle gepraat oor die veranderinge wat die fees ondergaan het en die impak wat dit op die fees het.
"Ons was werklik aangenaam verras. Ten spyte van die veranderinge wat die fees ondergaan het, bly dit steeds 'n puik fees om by te woon.
Die vertonings was van goeie gehalte en ons is mal oor die nuwe opkomende akteurs. Daar is soveel talent onder hulle," het Lippies gesê.
Volgens haar is hulle effe teleurgesteld in die feit dat Baron van Reedestraat stil geword het.
"Die KKNK gaan dalk te gesentraliseerd word. In die vroeër jare was die hele Oudtshoorn 'n fees. Elke venue, van kerksale tot skoolsale, het 'n pannekoekstalletjie of wyntent gehad waar 'n mens voor 'n vertoning bietjie kon ontspan. Dit is wat die KKNK uniek gemaak het. Elke ander fees is net op een plek in die dorp. Die KKNK was altyd die hele dorp vol."
Koekemoer sê verder dat die verskuiwing van die taxi's ook nie die beste idee is nie.
"Tot verlede jaar was die taxi's in Langenhovenweg by die burgersentrum. Dit was op 'n sentrale punt en niemand het na hulle gesoek nie.
Die taxi's is aansienlik minder en nou moet ons verder gaan soek vir die taxi's."
Dr. E sê die veranderinge is bloot iets waaraan mense gewoond moet raak.
"Ja, die fees raak dalk kleiner, maar die kwaliteit is steeds oulik. Vir jare besoek ons al die fees en van tyd tot tyd sal mens oral veranderinge teëkom. Mense moet maar net gewoond raak daaraan. Volgens haar is die vertonings steeds die hoogtepunt vir haar." Langkloof, sê hierdie was haar eerste kunstefees.
"Ek het nou nog nie genoeg punte bymekaar gemaak om amptelik 'n Feeskat te wees nie, maar ek wil darem net sê dit was 'n heerlike fees om by te woon."
Kyk 'n video hieronder.
Die Feeskatte is van links: Koekie von Blik, Sally Langkloof, Dr. E en Lippies Koekemoer. Foto: Hannes Visser
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'