OUDTSHOORN NUUS - Die gasvryheidsbedryf in Oudtshoorn en omgewing is tevrede met die toerismegetalle van die afgelope vakansie.
"Gastehuise op die dorp was die eerste twee weke van Desember maar stil," sê Niel Els, mede-eienaar en bestuurder van Turnberry Boetiekhotel. "Gelukkig was November 'n baie besige toerismemaand, en tussen Kersfees en Nuwejaar was die dorp se gastverblyf, soos gewoonlik, vol bespreek."
Die nuwe De Rust-toerismekantoor was volgens Billy Engelbrecht, voorsitter van Oudtshoorn- en De Rust-toerisme, baie besig. "Jan en Theresa Venter, eienaars van House Martin-gastehuis op De Rust, het 'n deel van hul winkel in die hoofstraat tot ons beskikking gestel vir 'n toerismekantoor. Hulle beman self die kantoor."
Die Kango-grotte se besoekerstal het met sowat 400 (1.4%) afgeneem. "In Desember 2016 het altesaam 31 409 mense die Kango-grotte besoek, vergeleke 30 965 in 2017," sê Engelbrecht. "Daar was egter 20% meer oorsese besoekers."
Hy meen die sukkelende Suid-Afrikaanse ekonomie, en veral die brandstofprys wat net voor die vakansie dramaties gestyg het, is daarvoor verantwoordelik dat minder binnelandse besoekers die grotte besoek het.
"Mense kom steeds vakansie hou, maar waar hulle voorheen 'n besoek aan Oudtshoorn en die Kango-grotte by hul vakansieplanne sou insluit, moet hulle kies waar hulle hul geld meer oordeelkundig bestee."
Sowat 200 meer mense as in 2016 het in Desember 2017 die opwindende Zipline-ervaring by Cango Caves Estate by die ingang na die Kango Grotte beleef. "Ons besoekerstal het met sowat 30% toegeneem," sê Jean Botha van Cango Caves Estate. "Die seisoen het stadig begin, maar tussen 26 en 31 Desember was hier 'n menigte binnelandse- en buitelandse besoekers."
Volgens Botha werk die Estate en die Kango-grotte goed saam. "Baie besoekers weet nie dat hulle vooruit vir 'n toer by die grotte moet bespreek nie. Wanneer besoekers nie dadelik op 'n toer kan gaan nie, kom hulle hierheen om die tyd te verwyl."
Johan Keller van Highgate-volstruisskouplaas is ook tevrede met die aantal besoekers wat by hulle aangedoen het. "Ons was baie besig met buitelandse toergroepe en binnelandse besoekers wat weens slegte weer by die see Oudtshoorn toe kom om ons sonskyn te geniet."
Die nuwe Klein-Karoo Ostrich Emporium, wat vroeg Desember sy deure geopen het, het ook 'n besige seisoen beleef. "Dit was 'n baie goeie besluit om die boetiek en fabriek na die nuwe perseel te skuif want die besoekerstal het dramaties toegeneem," sê Johan Schoeman, uitvoerende hoofbestuurder van Klein Karoo (Edms.) Bpk.
Volgens Engelbrecht besoek die binnelanders die Suid-Kaapse kus in twee sessies, naamlik van 16 tot 27 Desember, en dan weer vanaf 27 Desember tot 10 Januarie. Met die skole wat eers op 17 Januarie open, is die somervakansie nog nie verby nie.
Die somerseisoen vir buitelandse toerisme begin in September en duur tot April. "Buitelandse toerisme kom en gaan tot met die Paasnaweek in April," sê Els. "Na die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) loop die dorp leeg."
ARTIKEL; TISHA STEYN
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'