DE RUST NUUS - Deur die gemeen-skap, vir die ge-meenskap. Dit is die inwoners van De Rust se benadering tot aktiwiteite waaraan die hele gemeenskap deelneem en waarby almal baat, sê die organiseerders van die jaarlikse Meiringspoort Challenge wat op 26 Mei aangebied is.
Sowat 70 mense, wat ten nouste betrokke was by die aanbieding van die dag, het die dankie-sê funksie by Tante Maria se Stal op die Le Roux-plaas Doornkraal bygewoon. Die gaste het verteenwoordigers van die polisie en mediese ondersteuningsdienste, asook borge wat finansieel bygedra het, ingesluit.
Vanjaar het meer as 900 deelnemers vir die vyfde veldwedloop en derde bergfietsren ingeskryf. Dit is sowat 200 meer inskrywings as verlede jaar.
Al die roetes loop oor plase en bied deelnemers een maal 'n jaar 'n unieke geleentheid om die skoonheid van die landskap op privaat eiendom te deel.
Jeugklub
Die Meiringspoort Challenge is 'n organisasie sonder winsbejag en 'n gedeelte van die opbrengs word gebruik ten bate van die gemeenskap. 'n Tjek van R2 000 is aan Alta Fourie, onderwyseres by Blomnek Primêr en organiseerder van die De Rust-jeugklub, oorhandig.
Die jeugklub bestaan uit sowat 80 leerders van gr. 5 tot gr. 7. "Die doel van die klub is om hierdie leerders geleentheid te gee om 'n wêreld buite die klaskamer te ervaar," sê Fourie.
Geld ten bate van die klub word op verskeie maniere ingesamel, soos om goeie gebruikte klere wat aan die klub geskenk word, aan die gemeenskap te verkoop. Lettie Vrey het 'n herwinningsprojek hier begin. "Die herwonne plastiek, glas en blikkies word verkoop aan 'n herwinningsbesigheid op Oudtshoorn, en die geld wat ons daarvoor kry word aan die De Rust-jeugklub geskenk," sê Vrey.
Volgende jaar se Meiringspoort Challenge word op 23 Mei 2019 aangebied.
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Klein Karoo nuus'