DE RUST NUUS - Ouers en leerders van De Rust het gisteroggend (Woensdag 15 Mei) opgetrek na De Rust Primêr om hul ontevredenheid uit te spreek teenoor 'n onderwyser wat na bewering bykans nooit by die skool is nie.
Volgens een van die ouers, John Maxim, is die onderwyseres 'n gr. 7-leerkrag wat een van die hoofvakke aanbied, maar is sy glo net ongeveer 'n week in die maand in die skool.
Hy het verduidelik dat dit ook nie die eerste keer is wat ouers klagtes oor die spesifieke onderwyser ingedien het nie.
"Wanneer die kinders in gr. 8 kom druip hulle daardie vak, of kry swak punte omdat hulle nie reg onderrig word op laerskool nie. Sy mors met ons kinders se toekoms."
Volgens hom gaan dit vir bykans die laaste twee jaar so aan, maar bring sy elke keer mediese briewe of ander redes waarom sy nie by die skool kan wees nie.
Maxim vertel dat leerders 'n petisie opgestel en oorhandig het, en dat daar 'n verteenwoordiger van die departement teenwoordig was tydens die oorhandiging.
"Hulle wil haar hou by die skool, maar ons voel dat sy nie by die skool moet wees nie, want hoe gaan haar houding nou teenoor ons kinders wees? Sy weet mos nou dat ons as ouers en die leerders ongelukkig is met haar en sy kan hulle viktimiseer. Dit is mos nie billik teenoor die kinders nie."
Bronagh Hammond, woordvoerder van die WKOD, het gesê die departement is Dinsdagaand oor die saak ingelig en het vanoggend met die skoolbeheerlliggaam en die ontevrede ouers gesels.
"Die saak is na Arbeidsverhoudinge verwys vir ondersoek. Terwyl die ouers verstaanbaar ontsteld is oor die beweerde chroniese afwesigheid, moet die relevante prosesse gevolg word om die kwessie in terme van die Wet op Indiensneming van Opvoeders aan te spreek. Die betrokke opvoeder is gewaarsku oor hierdie prosesse. Die skool het hierdie kwessie ook voorheen met die opvoeder bespreek. Alternatiewe reëlings word oorweeg indien die afwesigheid voortduur."
Sy het bygevoeg dat die WKOD die situasie noukeurig sal monitor om te verseker dat daar aan die vereistes van die akademiese program voldoen word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’