DE RUST NUUS - Die beste algehele prestasie vir tabkverbouing in die Oos- en Wes-Kaap is deur drie boere van De Rust opgeraap.
Die Delport Broers Boerdery het onlangs die Universal Leaf SA (ULSA) toekenning ontvang vir die beste algehele prestasie in die verbouing van lugdroogtabak in die Wes- en Oos-Kaap.
Johannes en Bernard Delport boer al jare lank saam met hul pa, Frans, op Middelplaas naby De Rust en het skaars ‘n jaar gelede met tabak begin boer toe hulle die plaas, De Hoop, op die Willowmorpad aangeskaf het.
Hulle is bekend vir hulle boerdery met volstruise, skape en sybokke asook groentesaad, basteruie en -lenteuie, wortels, beet en preie.
Aan die einde van 2016 het hulle De Hoop gekoop.
Die plaas beslaan 500 ha, waarvan 70 ha besproeiingsgrond is en die res veld.
Omdat dit so laat in die seisoen was, het hulle 13 ha lugdroogtabak geplant ten einde nog ‘n oes te kan afhaal.
Daar is voorheen tabak op die plaas geplant en die nodige infrastruktuur, wat onder meer tabak-droogstore vir 15 ha tabak, het bestaan.
Ten spyte van ‘n hele aantal uitdagings het hulle ‘n gemiddelde oes van 2820 kg/ha gelewer, die hoogste omset vir tabakprodusente met ‘n kwota van meer as 20 000 kg.
Die gemiddelde oes vir die Wes- en Oos-Kaap was 2750 kg/ha.
Hulle het weer ‘n kontrak vir 2018 by ULSA gekry om 3 ha te plant.
Naas tabak, word tans ook tamaties vir Famous Brands op De Hoop geplant.
ARTIKEL & FOTO: TISHA STEYN, OUDTSHOORN COURANT KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Klein Karoo nuus'