KANNALAND NUUS - Kannaland spog dalk binnekort nie net met die jongste landdros in die Wes-Kaap nie, maar ook met een van die jongste speakers in die Wes-Kaap.
Dit kan 'n werklikheid word indien Kannaland Independent Party (KIP) se nuwe aangewese kandidaat vir die pos as speaker op die munisipale raad, die 33-jarige Peter-George Rooi, in die pos ingesweer sou word.
KIP het reeds die Onafhanklike Verkiesings Kommissie (OVK) ingelig dat hy die lidmaatskap van Rodge Albertus, voormalige speaker, opgeskort het. In 'n skrywe gedateer 14 Oktober, het die algemene bestuurder van verkiesingsake van die OVK, reeds die munisipale bestuurder van Kannaland, Ian Avontuur, in kennis gestel dat Rooi vir Albertus, soos voorgeskryf in item 18 van Skedule1 van die Munisipale Strukture Wet , Wet 117 van 1998, vervang.
Hierdie nuutste verwikkelinge in Kannaland volg op 'n hofuitspraak van die Wes-Kaapse hooggeregshof op 13 Oktober dat Avontuur opdrag gegee is om 'n vakature in die Kannaland-munisipaliteit te verklaar nadat Albertus se lidmaatskap deur sy party opgeskort is. Die hof het ook gelas dat Avontuur al die regskoste dra.
KIP het in Julie vanjaar Albertus se lidmaatskap opgeskort, maar Avontuur het toe geweier om volgens OVK-prosedure, 'n vakature te verklaar.
Die DA in Kannaland het in 'n media-verklaring hul tevredenheid met die regsproses uitgespreek.
"Ons verwag dat die waarnemende munisipale bestuurder die hofuitspraak sal eerbiedig en 'n vakature op die munisipale raad as 'n saak van dringendheid sal verklaar," sê die party in hul verklaring.
Die DA spreek ook hul ontevredenheid teenoor die burgemeester, Nicky Valentyn, uit omdat hy Avontuur na die hooggeregshof vergesel het en in 'n Kaapstadse Hotel oornag het.
"Die uitvoerende burgemeester, Nicky Valentyn, het 'n beduidende rol agter die skerms gespeel in 'n poging om die munisipale bestuurder te ondersteun in die uitvoering van hul planne," lui die verklaring verder.
By navrae het Valentyn gesê dat hy die hof se uitspraak respekteer en geen probleem sal hê om met Rooi saam te werk nie sou hy aangestel word. Avontuur, het soos Valentyn, bevestig dat hy ook die hof se uitspraak respekteer en dat hul regsverteenwoordigers die bevindinge sal bestudeer.
Ian Avontuur, waarnemende munisipale bestuurder saam met Nicky Valentyn, burgemeester van Kannaland.
'Ons bring jou die nuutste Kannaland, Karoo nuus'