Die plek was Die Burger se Praat Saam-verhoog en Woensdag se debat was een van vyf wat tydens die kunstefees plaasgevind het.
Die gesprekleier was Freek Robinson en behalwe Meyer en Fransman was die bekende en uitgesproke akademikus en filosoof, prof. Willie Esterhuyse ook op die verhoog.
Robinson het die professor gevra om die gesprek te begin met sy siening van die politiek in Suid-Afrika en op sy kenmerkende manier sonder om doekies om te draai het Esterhuyse vir Fransman ingelig dat hy skaam is vir die land se huidige leierskap. Hy het gesê dat die land onder Mandela en Mbeki nog sy goedkeuring weggedra het, maar dat hy hom nie kan vereenselwig met die Zuma-administrasie nie. Hy het ook gesê hy hoop en bid dat die ANC nie 'n twee-derde meerderheid in die opkomende verkiesing gaan kry nie, want hulle gaan dan probeer om die grondwet te verander.
Esterhuyse het ook nie die DA ontsien nie en vir Meyer gesê dat die DA met hulle huidige ideologiese raamwerk op die verkeerde pad is. "Die DA sal sukkel om meer as 25 % steun te kry as hulle voortgaan op hulle huidige pad van liberale demokrasie. Ivan julle sal dringend moet verander."
Met dr. Ivan Meyer se gespreksbeurt het hy dadelik op die ANC se onbekwame leierskap klem gelê en die Nkandla kwessie benadruk. "Met Nkandla is bewys dat Zuma geen integriteit het nie." Hy het gesê dat die Wes-Kaap onder DA beheer bewys dat kiesers die lang pad na vryheid kan volg of soos in die res van die land, die kort pad na Nkandla. In reaksie het Fransman gesê dat die Nkandla kwessie 'n tipiese gogga-maak-vir-baba-bang-storie is en dat die DA dit gebruik om die aandag van die ANC se suksesse af te lei.
Hy het gesê dat die ANC nie oor die individu gaan nie, maar oor die samelewing. "Die mense moet hulle blessings count en erken dat Helen Zille die DA gefail het." Ten opsigte van Nkandla het hy gesê dat daar beslis oorspandering was, maar dat dit nie voor die deur van die president gelê moet word nie. "Die kwessie moet aangevat word, nie die president nie."
Die lokaal was stampvol mense, waarvan 'n groot groep ANC-hemde gedra het. Die gehoor het hul kans om vrae aan die politici te rig met ywer gebruik, maar 'n hele paar het Robinson se opdrag dat geen toesprake gemaak mag word nie vergeet. Een vraagsteller het so meegevoer geraak dat hy selfs na die gehoor gedraai het om sy saak te stel en moes deur Robinson herinner word dat hy nog nie 'n vraag gevra het nie.
Die Oudtshoorn Courant het die volgende vraag aan Fransman en Meyer gestel: "Daar is op 7 Augustus verlede jaar 'n tussenverkiesing gehou waarna die DA die meerderheid in die raad bekom het. Tog regeer die ANC/Icosa/NPP-koalisie steeds. Die lesers wil graag by die ANC en die DA weet hoe dit moontlik is."
In sy antwoord het dr. Meyer gesê dat dit tipiese ANC-strategie is om te weier om mag oor te gee. "Die DA het die tussenverkiesing gewen, maar die ANC weier om die uitslag van die verkiesing te erken. Hulle doen presies wat Robert Mugabe doen. As hulle 'n verkiesing verloor weier hulle om dit te aanvaar en bly in beheer."
Op sy beurt het Fransman gesê dat die DA nie klippe kan gooi oor die Oudtshoorn situasie nie aangesien die DA presies dieselfde ding in Springbok gedoen het. "Hulle het die verkiesing daar verloor, maar geweier om mag oor te gee." Hy het toegegee dat die demokrasie nie erken word as die uitslag van 'n verkiesing nie gehoorsaam word nie. "Die ANC se standpunt is dat die meerderheid moet regeer en wat in Oudtshoorn gebeur is nie in belang van die mense nie." Hy het egter onmiddellik bygevoeg dat die DA nie kan oorneem nie omdat hulle struwelinge binne hulle party het en eers die kwessies wat hulle verhinder moet opklaar. "Die DA moet eers sy eie huis in orde kry."
Terwyl dr. Ivan Meyer in antwoord op 'n vraag waarom kiesers vir die DA moet stem daarop gewys het dat daar twee verslae beskikbaar is waarvolgens die Wes-Kaap op verskillende terreine as die beste provinsie in die land aangewys is het Fransman gesê dat die feit dat 27 skole in die Wes-Kaap gesluit sou word bewys dat die DA nie die belange van die mense op die hart dra nie.
Na afloop van die gesprek het verskeie mense gesê dat hulle verras is met die vlak van die vrae wat gestel is en dat hulle die gesprek uiters positief ondervind het.
Die provinisale leiers van die DA, dr. Ivan Meyer (links) en die ANC se Marius Fransman sit weerskante van prof. Willie Esterhuyse tydens Woensdag se vurige politieke debat. Foto: Hannes Visser.
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'