Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Baie dankbare Kobus Terblanche (63) van Oudtshoorn, wat 'n week gelede met simptome van Covid-19 in Mediclinic George opgeneem is, is vanmiddag, Donderdag 9 April, ontslaan.
Hy is op Dinsdag 31 Maart opgeneem en eers net gemonitor, maar sy toestand het agteruitgegaan en hy is om 04:00 op Vrydagoggend 3 April in die hoësorgeenheid opgeneem en aan 'n ventilator gekoppel. Dit volgens hospitaalbestuurder, Kassie Karstens.
Terblanche was tot gister (Woensdag, 8 April) in die hoësorgeenheid.
Volgens dr. Antuan van Rooyen, een van die spesialiste wat hom behandel het, het Terblanche van die begin af 'n goeie kans op herstel gehad. Dit is aangedui deur die telling wat hy gehad het in terme van 'n evaluasiestelsel wat op elke Covid-pasiënt in die Wes-Kaap toegepas word wanneer hulle in 'n hospitaal toegelaat word.
"Mnr. Terblanche is onder 65 en het geen ander siektes nie. Verder was Mediclinic gereed om hom reg te hanteer. Hy is baie vroeg op 'n ventilator gesit. Hy het ook nie akute respiratoriese noodsindroom ('acute respiratory distress syndrome' of ARDS) ontwikkel nie, maar slegs bakteriële longontsteking van sy linkerlong. Hy het dus 'n baie goeie kans op herstel gehad. Hy is reeds Maandag van die ventilator afgehaal," het Van Rooyen gesê.
Van Rooyen het verduidelik dat die nuwe coronavirus inflammasie in die longe veroorsaak wat daartoe lei dat water in die lugsakkies ophoop.
Volgens Van Rooyen was hierdie 'n goeie toetslopie vir Mediclinic. "Die hele Mediclinic het 'n goed uitgewerkte Covid-protokol in plek wat werk."
Terblanche is nog onder isolasie. Sy buurman, Jacques Terblanche, wat gesê het die pasiënt is vir hom soos 'n pa, het hom in George kom haal en vir hom 'n gemaklike bed agterin sy bakkie gemaak. 'n Groepie van Mediclinic se personeel was daar om hul pasiënt af te sien.
'n Aangedane Kobus Terblanche het aan die George Herald gesê, "Dis 'n wonderwerk. Ek voel goed. Ek was op 'n stadium so siek dat ek deurmekaar was. Baie, baie dankie aan almal vir hulle gebede en vir almal by die hospitaal vir alles wat hulle gedoen het. Ek het uitstekende behandeling ontvang."
Terblanche was die eerste Covid-19-pasiënt wat tot op datum in George gehospitaliseer is.
Kyk 'n video hieronder.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Klein Karoo nuus'