OUDTSHOORN NUUS - Dit is duidelik dat lede van die publiek se optrede die moontlike herinstelling van strenger inperkingsmaatreëls kan veroorsaak.
Daar is die afgelope twee weke gereeld berig oor die toename in Covid-19-gevalle in die Kaapstad-metro en die Tuinroete. Die Oos-Kaap is ook 'n brandpunt wat kommer wek. Die Wes-Kaapse premier, Allen Winde, sou vandag moontlike maatreëls aankondig om die verspreiding van Covid-19 in die Wes-Kaap te beperk.
In Oudtshoorn het die infeksies teen verlede week in slegs sewe dae met meer as 200% vanaf 37 gevalle tot 137 gestyg.
Sakeleiers en skole in Oudtshoorn het intussen twee funksies wat aangebied sou word, afgestel. Die Oudtshoorn-besigheidskamer het hulle maandelikse netwerkaand wat gewoonlik goed ondersteun word, verlede Donderdag afgestel en Eljada-Kairos skool het ook hulle funksie om hulle nuwe outisme-afdeling bekend te stel gekanselleer.
'n Raadsvergadering wat Maandag in Oudtshoorn sou plaasvind is ook deur die speaker, Julia Le Roux, op grond van Covid-19 uitgestel. Sy het haar stem by die van die burgemeester, Chris Macpherson, en die departement van gesondheid gevoeg wat inwoners dringend maan om gehoor te gee aan Covid-19-regulasies.
'n Brief van 'n besorgde inwoner waarin sy vra waarom daar nie teen mense wat nie by die maatreëls hou, opgetree word nie, is aan die besigheidskamer en die media gestuur. 'n Groot bron van kommer die afgelope week was die honderde mense wat in 'n lang ry gewag het om toelaes by die poskantoor te ontvang. Die ry was verlede Donderdag so lank dat dit vanaf die poskantoor, reg om die blok vanuit Kerkstraat al met Hoogstraat langs tot byna by Baron van Reedestraat in St Saviourstraat gestrek het.
Mense het in groepe gestaan en talle was sonder maskers. Op 'n stadium het humeure opgevlam en 'n persoon is met 'n mes gesteek.
Die besigheidskamer het die brief aan die munisipaliteit gestuur en 'n reaksie van die burgemeester ontvang. In sy reaksie sê Macpherson hy was in verbinding met die SAPD wat volgens hom aangedui het dat hulle nie die wet wat mense dwing om maskers te dra, kan toepas nie.
Macpherson het ook genoem dat hy met die poskantoor se bestuur probeer praat het sodat hulle as diensverskaffer die nodige Covid-19-protokol in plek kan hê, maar die gesprek was skynbaar ook vrugteloos.
"Ek vergader binne die volgende paar dae met provinsiale ministers om hierdie aangeleentheid te bespreek aangesien ons klein groepie wetstoepassers ook nie die nodige magtiging het om die wet af te dwing nie," het hy gesê.
Macpherson het die versekering gegee dat alle moontlike oplossings vir die probleem ondersoek word, en dat daar dringende stappe geneem moet word om 'n tweede en ernstige Covid-19-vlaag die hoof te bied.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'