OUDTSHOORN NUUS - De Rustica Estate se Coratina-olyfolie is verlede week, tydens die internasionaal bekende EVOOLEUM-toekennings in Spanje, as die wêreld se beste olyfolie aangewys.
Volgens Dawie Durand, algemene bestuurder van De Rustica Estate, is die EVOOLEUM-toekennings een van die grootste kompetisies waaraan hulle kan deelneem en was die toekenning ook 'n eerste vir Suid-Afrika.
"Dit was soos die wêreldbeker in olyfolie. Die kwaliteit van die Extra Virgin Olive Oils word getoets. Ons was een van 1 000 inskrywings wêreldwyd."
Hulle het 97 uit 100 punte verwerf.
Daar is 26 proeërs van 10 verskillende lande. Die monsters word nie gemerk nie, en die proeërs het dus geen idee watter olyfolie hulle proe nie. Die olies word dan uitgedun na die beste 100 waarna die bestes gekies word.
Bo en behalwe vir die feit dat die Coratina-olyfolie die beste olyfolie in die wêreld is, het dit ook die volgende kategorieë gewen:
- Beste in die Monovarieta/Single Cultivar-kategorie
- Beste Coratina
- Beste in die Mixture Green and Ripe Fruit-kategorie
- Beste van Suid-Afrika
Die Coratina het al verskeie pryse en toekennings plaaslik en internasionaal ontvang.
Durand sê De Rustica fokus absoluut op die kwaliteit van hulle produkte.
De Rustica Estate se olyfolieprodukte.
Van links is Andries Afrika, Kallie Frey (olie-somalier), Dawie Durand (algemene bestuurder) en Gaylon Stuurman. Foto's: Verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’