OUDTSHOORN NUUS - Coenie de Villiers en Deon Meyer het spesiaal vir die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), én Oudtshoorn 'n vroeë Kerskonsert saamgestel om die Kersgety in te wy.
De Villiers en Meyer het 'n spesiale vertoning, Karoo-Kersfees saamgestel wat op 25 en 26 November om 19:00 by Surval Boutique Olive Estate, net buite Oudtshoorn, opgevoer word.
"Uiteindelik kan ons weer vir Coenie en Deon in die Klein-Karoo verwelkom en dit met 'n spesiale musiek- en woordreis vir die Kersgety. Dit is wonderlik dat ons stadig maar seker weer lewendige vermaak vir plaaslike en besoekende musiekgehore kan aanbied met van ons land se voorste kunstenaars," sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK.
De Villiers skuif agter die klawers in vir 'n Karoo-program wat nie net aan die landstreek hulde bring nie, maar ook die Kerstyd. "Uiteindelik kan ons weer optree. Boonop kan ons dit doen onder die sterre in die Karoo. Kom deel die Kersfees-gees met ons, dit gaan 'n voorreg wees om weer 'n gehoor te sien," vertel hy.
Karoo-Kersfees beloof om 'n onvergeetlike en spesiale ervaring vir die hele gesin te wees. Die produksie duur 70 minute. 'n Beperkte aantal kaartjies is by Quicket beskikbaar teen R250 per persoon – spring gou om jou sitplek te bespreek.
Alle Covid-19-regulasies sal nagekom word en lede van die gehoor moet te alle tye 'n masker dra. Vir navrae, kontak die KKNK-kantoor by 044 203 8600, stuur 'n WhatsApp na 065 285 2337, of e-pos info@kunste.org.za.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'