OUDTSHOORN NUUS - Lede van Caring Angels, 'n liefdadigheids-organisasie in Oudtshoorn, het Sondag moeders en personeel by Coronation Memorial en Gottland Huis vir Moedersdag bederf.
Die lede het koek en lekkergoed-pakkies aan die vroue van die tehuise uitgedeel en ook Maandagaand, tydens hul weeklikse hospitaalbesoek, pakkies aan mammas oorhandig.
Volgens Letitia de Lange, voorsitter van Caring Angels, was dit hulle manier om mammas en oumas te bedank vir hul harde werk.
"Daar is soveel moeders daar buite wat nie net hul eie kinders nie, maar ook familie of vriende se kinders grootmaak. Baie grootouers maak selfs soms hul eie kleinkinders groot. Ons wou graag aan elke vrou iets gee om hulle te bedank vir dit wat hulle oor die jare al gedoen het."
De Lange sê sy wil graag ook die borge bedank vir hul bydrae.
"Sonder die gemeenskap sou dit nie moontlik gewees het nie. Baie dankie aan elkeen se bydrae om die mammas en oumas se Moedersdag op te kikker."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'