OUDTSHOORN NUUS - Cango Wildlife Ranch het onlangs geskiedenis gemaak na hulle hul eerste handgrootgemaakte jagluiperd, in samewerking met SanWild Sanctury weer in die natuur vrygelaat het.
Volgens Tammy Moult, assistent-direkteur by Cango Wildlife Ranch, het Xyla, saam met haar vier boeties en sussies, in Oktober 2022 by Cango Wildlife Ranch aangekom.
"Sansa, een van die Ranch se jagluiperds het aan vyf welpies geboorte gegee, waarvan Xyla een was. Sy was die kleinste van die werpsel. Sy en haar broers en susters Xion, Xara, Xena en Xavier was deel van ons voortdurende poging deur ons Cheetah Preservation Foundation (CPF), om jagluiperdbevolkings te versterk deur noukeurig bestuurde teelprogramme."
Ten spyte van haar grootte, het Xyla vinnig uitgestaan vir haar speelse, nuuskierige geaardheid.
Volgens Moult het die welpies nie 'n groot kans op oorlewing indien hulle in die natuur gebore word nie.
"By die Cango Wildlife Ranch word hierdie kanse dramaties verbeter deur middel van sorg en kundigheid. Vir die eerste twee weke het Sansa haar welpies gekoester en hulle van noodsaaklike voedingstowwe voorsien deur haar biesmelk, 'n melkagtige stof hoog in proteïene, vitamiene en meer. Daarna is die welpies na 'n sentrum geskuif, waar opgeleide personeel verseker het dat hulle die beste moontlike sorg ontvang."
Teen die tyd dat Xyla ses maande oud was, het sy haar kenmerkende persoonlikheid ontwikkel. Terwyl haar broers en susters ook unieke eienskappe getoon het - Xion se verkennende aard, Xena se ywerigheid en Xara se rustige geaardheid - het Xyla 'n bron van eindelose energie gebly. Hulle vorm steeds deel van die Cango Wildlife Ranch se programme.
Moult verduidelik dat jagluiperds, deur die Internasionale Unie vir Natuurbewaring (IUCN) as kwesbaar geklassifiseer word, en dat daar minder as 7 100 in die natuur is. Faktore soos habitatverlies, mens-wild-konflik en onwettige stropery bedreig steeds hul voortbestaan.
Vir dekades is die CPF besig met pogings om hierdie uitdagings te bekamp deur middel van teling, navorsing en om mense oor die onderwerp in te lig.
Die vrylating
Die span van Cango Wildlife Ranch het die reis van 1 624 kilometer na SanWild aangepak en deurnag gery om seker te maak dat Xyla veilig en gemaklik is. Sy is vrygelaat in 'n reservaat van 3 000 hektaar. Dit was 'n emosionele oomblik vir die Cango Wildlife Ranch-personeel teenwoordig, veral vir twee personeellede wat persoonlik betrokke was by die grootmaak van Xyla. Hierdie oomblik het nie net die begin van 'n wonderlike nuwe lewe vir Xyla verteenwoordig nie, maar word ook gesien as 'n persoonlike triomf vir die personeel.
By SanWild Sanctuary het Xyla die sagtevrylatingsfase betree. Hierdie proses behels akklimatisering binne 'n beheerde omgewing, waar sy noodsaaklike vaardighede soos jag kan ontwikkel. Sy is maande lank noukeurig dopgehou deur natuurbewaarders wat haar van karkasse voorsien het terwyl sy by haar nuwe omgewing aangepas het.
Die keerpunt het gekom toe Xyla suksesvol oorgeskakel het na die jag van lewende wild. Hierdie mylpaal het haar groeiende onafhanklikheid en gereedheid vir volle vrylating in die natuur gekenmerk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’