Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Personeel van Cango Wildlife Ranch het Vrydag 18 Julie die Oudtshoorn-diereherberg vir ’n spesiale Mandeladag-uitreikaksie besoek.
Die span, wat uit 16 veeartsenykundige studente van die Verenigde State, vier plaaslike internskapstudente, personeel van die Oudtshoorn- en De Rust-toerismekantoor, en Cango Wildlife Ranch se eie personeel bestaan het, het besluit om hul 67 minute (en méér) saam met die honde van die plaaslike skuiling deur te bring.
“Hierdie skuiling is nie glansryk nie, maar dit het siel,” sê die Ranch-span in ’n verklaring.
“Elke hond dra ’n storie, sommige met letsels, ander met onsekerheid, maar almal met ’n behoefte aan menslike teenwoordigheid en sorg,” verduidelik Tammy Moult, assistentdirekteur van Cango Wildlife Ranch.
Tydens hul besoek het die span die honde gevoer, uitgeneem vir stappies en net saam met hulle gesit.
Die diereherberg, geleë aan die buitewyke van Oudtshoorn, word deur ’n klein, toegewyde span beman wat daagliks hard werk om honde wat in die straat opgetel of afgelaai is, te versorg. Die werk is moeilik en die uitdagings groot, maar hulle doen hul bes met beperkte hulpbronne.
As deel van hul betrokkenheid het Cango Wildlife Ranch ’n maandelikse donasie van R500 aan die diereherberg belowe en ander besighede uitgedaag om dieselfde te doen.
“Klein, gereelde bydraes kan ’n groot verskil maak, van kos en beddegoed tot salarisse en strukturele instandhouding.”
Maar, sê hulle, die grootste geskenk wat jy kan gee, is ’n permanente huis vir een van die honde.
“As jy nie kan aanneem nie, oorweeg dit om pleegsorg te bied of net vir ’n middag as vrywilliger te werk. Elke gebaar tel.”
Vir meer inligting oor hoe jy kan help, kontak Ansa de Jager by 044 272 0864 of 063 757 8633.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’