CALITZDORP NUUS - Die vonnisoplegging van 'n man van Calitzdorp wat 'n man met 'n mes in die rug gesteek en aan aanranding met die opset om ernstig te beseer, skuldig bevind is, is vir 'n korrektiewe verslag tot later vandeesmaand uitgestel.
Die 18-jarige Jayson Fortuin het tereggestaan op aanklag van poging tot moord deurdat hy op 19 Mei 2017 by Royal Heights, Calitzdorp, vir Wiesel Hendricks met 'n mes gesteek het.
Hy het in 'n pleitverduideliking erken dat hy kwaad geword het toe hy sien hoe Hendricks sy voormalige meisie soen. Hy het 'n bottermes gegryp en Hendricks daarmee in die rug gesteek. Die staat het Fortuin se pleit aanvaar en hy is onskuldig bevind op die hoofklag van poging tot moord.
Streeklanddros Retha Pretorius het die saak op versoek van Fortuin se regsverteenwoordiger, adv. Benito Metembo, vir 'n korrektiewe verslag en vonnisoplegging tot 18 Julie uitgestel. Fortuin is 'n eerste oortreder.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'