CALITZDORP NUUS - Calitzdorp bied van 18 tot 20 Junie die Calitzdorp Uncorked-fees aan.
Volgens Erina Meiring, toerismebestuur van die Calitzdorp-toerismekantoor, het die fees ontwikkel na die sukses van die vorige portfeeste en meer onlangs, die Winterfees.
"Calitzdorp Uncorked is ‘n viering van die lewenskrag, kreatiwiteit, gehardheid en diversiteit van ons klein dorpie. Tydens die naweek word besoekers genooi om te deel in hierdie viering van alles wat ons dorp uniek maak," het sy in die verklaring gesê.
Calitzdorp is wêreldberoemd vir sy uitstaande wynkelders soos Axe Hill, Boplaas, Calitzdorp Wynkelder, De Krans, Du’SwaRoo en Peter Bayly.
Gedurende Calitzdorp Uncorked sal besoekers die geleentheid kry om dié wynkelders te besoek met behulp van hulle ‘hop on hop off’ plaasstyl vervoer op twee wynroetes, die Tinta- en die Hanepoot-roetes.
"Ons is ook trots op die hoeveelheid en verskeidenheid eetplekke oral in die dorp en elkeen van hulle sal aan besoekers iets uniek voorsit om te geniet. Ons bied ook 'n wye reeks akkommodasie sodat besoekers die hele naweek saam met ons kan geniet."
Tydens die fees sal besoekers ook die geleentheid kry om die plaaslike kunstenaars se optredes, wat musikante, kore, dansers en pyporreluitvoerings insluit, te beleef.
"Ons bied ook onvergeetlike vetplanttuin en historiese staptogte en praatjies aan. Die spilpunt van die geleentheid is die historiese NG kerk-omgewing waar ‘n tradisionele mark die Saterdagoggend geniet kan word."
Daar is ‘n beperkte hoeveelheid eksklusiewe Calitzdorp Uncorked-paspoorte beskikbaar, wat besoekers op ‘n onvergeetlike reis sal neem.
"Met jou paspoort sal jy gratis toegang kry na die dorp se wynroete-vervoer, beperkte gratis wynproe by elk van die dorp se wynkelders en ‘n #calitzdorpuncorked wynproe-glas. Besoekers met paspoorte word ook in aanmerking geneem vir 'n gelukstrekking en 'n verrassingsmandjie."
Volg Calitzdorp Uncorked op Facebook en Instagram: #calitzdorpuncorked.
Vir verdere navrae kan Kevin Taylor by 082 469 8143 geskakel word of stuur 'n e-pos aan taylorklb@gmail.com
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'