CALITZDORP NUUS - Ten spyte van die uitmergelende droogte waaronder boere gebuk gaan, kan De Krans vanjaar weer hulle gewilde hanepootpluk aanbied.
Volgens Boets Nel van De Krans is hierdie die ergste droogte wat hulle nog beleef het.
"Gelukkig kon die blok waar besoekers hanepoot pluk, uit die Calitzdorpdam water kry en sal daar 'n goeie oes wees," het hy hierdie week gesê.
Die druiwe is reeds besig om ryp te word en besoekers kan elke dag vanaf 1 tot 25 Februarie hulle eie hanepoot gaan pluk.
Besoekers bring hulle eie houers, maar kan ook kartonhouers by De Krans koop.
Die druiwe wat self gepluk word kos R7,50 per kilogram.
Behalwe vir die opwinding om jou eie druiwe te kan uitkies en pluk is daar ook tyd vir kuier en smul by De Krans se Bistro en Deli.
Besoekers kan onder die prieel ontspan en van De Krans se pryswennerwyne proe en die heerlike geregte van die Bistro geniet.
Alhoewel die pluktyd tot 25 Februarie geskeduleer is raai Nel besoekers aan om nie tot op die laaste wag nie.
"Die druiwe in daardie blok het water gekry, maar die oes is beslis kleiner en ons kan nie waarborg dat daar tot 25 Februarie druiwe beskikbaar gaan wees nie."
Hy sê ook dat De Krans se totale oes as gevolg van die voortslepende droogte waarskynlik 40% kleiner gaan wees as vorige jare.
Hulle eerste oes wat vandeesmaand gemaak is, was 45% minder as verlede jaar.
Vir navrae oor druiwepluk en om plek by die Bistro te bespreek, skakel Helet Viljoen of Bessie Swanepoel by 044 213 3314 / 364.
Daar word aanbeveel dat plek veral oor naweke bespreek word.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Hessequa nuus'