OUDTSHOORN NUUS - 'n Groep van 456 nuwe konstabels, wat die basiese polisie ontwikkelingsprogram aan die Oudtshoorn SAPD Akademie voltooi het, het Vrydag tydens 'n spog uitpasseringsparade op die De Jager-sportterrein uitpasseer. Honderde ouers en familielede van die nuwe konstabels het die geleentheid bygewoon.
Volgens die nasionale adjunk-polisiekommissaris, lt.genl. Sehlahla Fannie Masemola, is die groep deel van 5 000 konstabels wat die agt maande kursus aan die Tshwane Akademie in Gauteng, die Bisho en Graaff-Reinet Opleidingsakademies in die Oos-Kaap en die Oudtshoorn en Phillipi Akademies in die Wes-Kaap suksesvol voltooi het.
Die SAPD het volgens Masemola vanjaar altesaam 517 345 aansoeke ontvang en kan die nuwe konstabels hulself as baie gelukkig beskou.
"'n Loopbaan in die polisie bied stabiliteit, uitstekende voordele soos mediese- en pensioenfonds asook 'n groot geleentheid vir jong mans en vroue van Suid-Afrika om by te dra tot die groot ekonomiese strategie van die land met die bekamping van die misdaad.
Die nuwe konstabels sal volgens Masemola nou uitgeplaas word na verskillende polisiestasies en openbare orde polisie-eenhede vir 'n proeftydperk van 12 maande.
Hulle sal ook aangewend word om deel te wees van die polisie se Veiliger Feesseisoen-veldtog wat reeds aan die gang is.
Polisiebeamptes van die polisie-orkes tydens die uitpasseringsparade.
Volgens Masimola het die nuwe konstabels besonders hard gewerk en is die nuwe konstabels nou gereed om Suid-Afrikaners te dien en te beskerm.
"Daar is geen plaasvervanger vir harde werk indien jy jou drome wil bewaarheid nie," het Masemola gesê.
Die topdrie studente van elke akademie ontvang ook beurse om verder te studeer.
Masemola het die nuwe konstabels gemaan om nie by korrupsie betrokke te raak nie.
Hy het ook die Oudtshoorn Akademie gelukgewens met die oplewering van die student wat die beste in die land gevaar het.
Nuwe vrouekonstabels tydens die uitpasserings-parade. Foto's: Garnett Wicomb
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'