DE RUST NUUS - Twee De Rusters moes Maandagoggend hulpeloos staan en toekyk hoe die buitegeboue en 'n gedeelte van hulle huis afbrand.
Trix Peel (68) en Bill Bartholomew (81) vertel hulle was Maandagoggend net voor seweuur nog in die bed toe hulle buurman verwoed aan die deure en vensters klop en "Brand, brand!" skreeu.
Bill het uitgegaan en saam met die buurman gesien dat 'n gastekamer langs die motorhuis brand.
Die brand het vinnig na die dubbelmotorhuis versprei, maar twee motors wat voor die motorhuis geparkeer was moes eers geskuif word voordat hulle die deure kon oopmaak.
Volgens die buurman het hy swart rook by die buitegeboue sien uitborrel en alarm gemaak.
"Die vuur het baie vinnig versprei en ek kon bitter min met my tuinslang uitrig." Hy sê daar was 'n groot knal uit die motorhuis waarna die hele dak inmekaar gestort het.
"Ek vermoed dit was die petroltenk van Bill se motorfiets wat in die motorhuis ontplof het."
Van die motorfiets, 'n 2012 Triumph Trophy 1200, van meer as R150 000, is slegs 'n paar stukke metaal oor.
Bartholomew sê al sy gereedskap en 'n hele versameling memorabilia wat hy oor jare bymekaargemaak het is ook in die motorhuis vernietig.
Trix Peel in die oorblyfsels van die huis se woon- en eetkamer.
Volgens Peel het 'n boer, Pieta Schoeman, baie vinnig reageer en water deur 'n dik pyp uit sy dam gepomp om die vuur te begin blus totdat die brandweer opgedaag het.
Die vuur het met die dakbalke na die huis versprei en die eet- en woonkamer in puin gelê.
Teen Dinsdagmiddag het Peel nog gewag dat 'n assessor die skade bereken.
Sy en Bartholomew en haar suster wat uit Engeland by hulle kuier, word intussen gratis by die Backpackers@1965 gehuisves.
Peel sê sy kan nie glo hoeveel ondersteuning hulle uit die gemeenskap ontvang nie.
ARTIKEL & FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'