OUDTSHOORN NUUS - In reaksie op plasings op sosiale media rakende die diereskut het Chris Macpherson, uitvoerende burgemeester, vanmiddag met die media gesels.
Dit volg nadat Odin (Oudtshoorn dogs in need) glo kennis ontvang het dat munisipale amptenare by die skut nie langer met Odin mag saamwerk nie.
Macpherson het bevestig dat hy opdrag gegee het dat alle optrede by die skut en alle toegang tot die skut streng gereguleer gaan word terwyl n ondersoek geloods word oor hoeveel diere by die skut aan wetgewing voldoen en vir hoeveel daar magtiging verleen is.
"Die skut is 'n skut, nie 'n kennel nie. Ons kan nie toelaat dat dosyne diere bloot hier afgelaai word sonder dat die munisipaliteit presies weet wat van hulle word nie. Volgens skutwetgewing mag 'n dier slegs sewe dae geskut word voordat dit verwyder moet word. Die munisipaliteit moes eenvoudig net ingryp om verskeie praktyke aan te spreek," het hy gesê.
Macpherson het die media byvoorbeeld state gewys waar derduisende rande maandeliks aan veeartskostes uitbetaal word.
"Dit is belastingebetalers se geld. Ek het 'n ondersoek gelas om te bepaal wie al daardie kostes goedgekeur het, want tans is daar volgens skutpersoneel drie honde wat die verantwoordlikheid is van die munisipaliteit. Die res is volgens my inligting, Odin se honde.
Die publiek word onder die indruk gebring dat die munisipaliteit geen fondse vir dieresorg voorsien nie, maar intussen sit ek met rekening op rekening vir veeartsenydienste by die skut. Dit is rekeninge wat met belastingbetalers se geld betaal moet word en ek is besig om uit te vind op wie se gesag daardie kostes aangegaan is."
Macpherson het benadruk dat die dienste van die skut sal voortgaan en dat die skut voortaan op alle vlakke deur die munisipaliteit bedryf sal word.
"Mense is welkom om geld aan die skut te skenk, maar dit moet direk by die munisipaliteit inbetaal word en dit word dan volgens ons geouditeerde sisteme weer vir die skut aangewend. Op hierdie stadium het ons geen idee hoeveel van die publiek se skenkings word daadwerklik net vir Oudtshoorn aangewend nie en dit is iets waaraan aandag gegee moet word."
Hy het gesê dat addisionele personeel eersdaags opleiding ontvang om die mannekrag by die skut uit te brei. "Ons is natuurlik verheug as vrywilligers inspring en help, maar hulle kan nie die munisipaliteit se jurisdiksie wat volgens wetgewing bepaal word, systap nie."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'