OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn se uitvoerende burgemeester, Chris Macpherson, het vandeesweek sy dank en waardering uitgespreek aan almal wat 'n bygedra gelewer het om vanjaar se KKNK suksesvol aan te bied.
"In die eerste plek, baie dankie aan ons inwoners en besigheidseienaars vir julle positiwiteit, vriendelikheid en gasvryheid. Ons het talle komplimente van besoekers ontvang oor die gasvryheid van Oudtshoorn se mense. Die fees kan nie plaasvind sonder die ondersteuning van die dorp se mense en besighede nie."
Macpherson het ook sy waardering teenoor Kunste Onbeperk se direksie, die bestuurspan en elke werknemer van die KKNK en kontrakteurs betuig wat nagte deur gewerk het om die fees moontlik te maak.
Macpherson het gesê dat die aanbieding van so ‘n groot fees ‘n logistieke nagmerrie kan wees, maar weens hulle deeglike beplanning en uitvoering, het alles glad verloop.
"‘n Fees met die omvang van die KKNK gaan gepaard met groot veiligheidsuitdagings en hier moet groot waardering en dank uitgespreek word aan Brigadier Susan Crafford en Kolonel Tanya du Plessis, elke lid van hulle span wat die GOS (Gesamentlike operasionele sentrum) tydens die KKNK beman het asook die span van Alert Patrol wat die feessekuriteit behartig het en verseker het dat feesgangers en stalletjiehouers veilig was."
Macpherson het bygevoeg dat die munisipaliteit ‘n integrale deel van die KKNK is dat hy ook ek elke werknemer van die munisipaliteit wil bedank vir die dienste wat hulle voor, tydens en na die KKNK gelewer het. "
Sonder hierdie toegewyde mense sou dit haas onmoontlik wees om ‘n fees aan te bied. Die sukses van die KKNK en die gepaardgaande voordeel wat Oudtshoorn se inwoners uit die fees put, is afhanklik van elke rolspeler, ongeag hoe groot of klein, die bydrae is," het Macpherson gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’