Gallery Video
TUINROETE NUUS EN VIDEO - ‘n Hond van Mosselbaai wat vermis geraak het nadat hy gisteroggend, 13 Junie, saam met sy eienaars in ‘n motorongeluk in Meiringspoort betrokke was, is gedurende ‘n dramatiese reddingspoging vanmiddag, 14 Junie, in die berg by Meiringspoort gered.
Die hond, Bulletjie was saam met sy eienaars, Tertius en Rina Calitz, oppad na Pretoria toe hulle by Dubbeldrift in ‘n ongeluk betrokke was. Die ongeluk het reeds gisteroggend plaasgevind maar daar is eers op die wrak teen ongeveer 13:00 gistermiddag afgekom.
FOTOGALERY: Bulletjie gevind na ongeluk
Tertius is in die botsing dood en Rina is na ‘n hospitaal geneem. Bulletjie was egter skoonveld.
Die Oudtshoorn Dogs In Need het vanoggend ‘n oproep van ‘n ondersteuner van die organisasie, Lee-Ann Johnson gekry nadat sy ‘n wit-en-swart hond in Meiringspoort gesien het.
Algehele bestuurder van die organisasie, Marlene Mennie en werknemer Patrick Zemba het vanaf Oudtshoorn na Meiringspoort gery en na Bulletjie begin soek.
Patrick het teen die berg opgekyk en Bulletjie gesien waar hy in ‘n klipskeur gesit het.
Mennie sê die rivier het begin afkom en die water het stormsterk gevloei. “Bulletjie wou nie dat ons hom vang nie en het ons gebyt waarna hy in die rivier gespring het. Patrick het sy hemp in die gietende reën uitgetrek en ons kon daarin slaag om Bulletjie uit die rivier te haal.”
Mennie en Zemba het Bulletjie warm toegedraai en vir hom kos en water gegee.
Hy is vanmiddag met familie van die Calitz-egpaar herenig.
Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie.
VIDEO VERSKAF:
Rina Calitz, Selma Calitz en Bulletjie se redders Patrick Zemba en Marlene Mennie.
Rina Calitz, Selma Calitz en Marlene Mennie nadat Bulletjie veilig gevind is.
Patrick Zemba nadat hy Bulletjie gevang het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’