Volgens die organiseerder, Luderick Jacoby van die Nomads motorfiets-klub in Kaapstad, het hulle verlede jaar se inskrywings met bykans 300 verbeter. Hy sê dat daar na beraming 3 500 motorfietse van oor die hele land by die Buffalo was.
"En dit sluit nie mense in wat net vir 'n dag oorgery het en nie ingeskryf het nie," voeg hy by. Volgens hom was hierdie jaar se saamtrek baie rustig sonder enige voorvalle en sonder 'n enkele ongeluk. "Die mense van Mosselbaai het my laat verstaan dat die Buff weer volgende jaar welkom is," het hy Dinsdag telefonies gesê toe hy uitgevra is oor die moontlikheid dat die Buffalo aanstaande jaar weer in Mosselbaai aangebied sal word.
Duisende toeskouers het Saterdagoggend op die roete deur Mosselbaai en verby die Punt saamgedrom om die massarit van 'n paar duisend motorfietse gade te slaan. Die reënbui vroeg Saterdagoggend het min gedoen om bewonderaars en motorfietsryers se gees te blus. Swart strepe in Marshstraat in die omgewing van Trawlers restaurant het bewys dat 'n paar van die manne en dames Vrydagaand hulle vernuf op twee wiele gewys het.
Een restaurant eienaar het opgemerk dat hy selfs nie in Desember so besig was soos die afgelope naweek nie. Sondagoggend teen dagbreek was die meeste ryers reeds besig om op te pak en gereed te maak vir die pad huis toe. Een van die motorfietsklubs het gevra dat daar spesiaal melding gemaak sal word van die wyse waarop die ablusiegeriewe dag en nag skoon en netjies gehou is deur munisipale personeel.
Die volgende motorfietssaamtrek op die Tuinroete is die Whale Rally wat in Junie/Julie in Plettenbergbaai plaasvind.
Duisende toeskouers het Saterdagoggend langs die roete saamgedrom om die massarit van motorfietse te sien.
Marshstraat was Vrydag en Saterdag vir elke motorfietsliefhebber 'n skouspel.
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR