OUDTSHOORN NUUS - Twee broers wat van roof aangekla was, is Woensdag 11 Julie onskuldig bevind.
Jaswin Fredericks (25) en Ferdinand Ewerts (35) was duidelik aangedaan na die uitspraak gelewer is. Hulle is daarvan aangekla dat hulle vyf jaar gelede 'n man van sy beursie met R3 000 daarin beroof het, maar het dit ontken.
Streeklanddros Retha Pretorius het in haar uitspraak gesê die hof het bevind dat die klaer in die saak, Andries du Preez (25), nie 'n behoorlike observasie van die twee verdagtes kon maak nie.
"Dit is ook onseker waarom die polisie nie 'n uitkenningsparade gehou het nie," het die landdros gesê.
Sy het in ag geneem dat die twee broers vyf jaar na die voorval in die hof kom getuig het. Hulle het egter goeie getuienis gelewer en by hul weergawes gehou.
Hulle is daarvan aangekla dat hulle op 24 Julie 2013 Andries du Preez (25) in Hoogstraat met 'n mes gesteek en beroof het.
Ewerts het getuig dat dit sy eie beursie en geld was wat die polisie in sy besit gevind het toe hulle in die vroeë oggendure in Jacobsonstraat, 7 km van waar die beweerde voorval glo plaasgevind het, in hegtenis geneem is. Hy was saam met Fredericks op pad na 'n taverne in Bridgton om biere te gaan koop. Hy het ook ontken dat die feit dat sy ma die geld aan die klaer terugbetaal het, bewys is dat hulle vir du Preez beroof het.
"Ons het haar nie gevra om dit te doen nie en dit is maar hoe 'n ma is," het hy gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'