OUDTSHOORN NUUS - Die 18-jarige Britney Louw is oorlede nog voordat sy haar matriekjaar kon klaarmaak. Haar ma, Beaulah Louw, moes die realiteit aanvaar dat Britney die derde kind is wat sy aan die dood moes afstaan.
Britney, 'n leerder van Hoërskool Môrester, is onlangs oorlede nadat sy maande lank gesukkel het met tuberkulose (TB).
Volgens haar ma was dit 'n op en af stryd vir Britney - op stadiums het sy beter geword, ander tye het haar toestand verswak.
Volgens die bedroefde ma was Britney op behandeling gewees, maar sy dink dit het nie gewerk nie. "Dit was die derde keer dat sy behandeling moes ontvang vir die TB. Sy was vir so 'n maand beter, maar toe sê hulle sy het steeds die virus in haar. Haar liggaam het bestand geraak teen die medikasie, toe werk dit net nie meer nie," het Beaulah aan Oudtshoorn Courant vertel.
"Hulle het haar op sterker pille gesit en ek het gevra dat hulle haar George toe stuur, want sy het nie beter geword nie. In George het sy bietjie beter geword, maar op 'n stadium moes hulle 'n dreineringspyp in haar longe plaas. Ek weet nie of dit vog was of so iets nie, maar sy kon beter asemhaal."
Teen middel Desember is Britney huis toe gestuur, omdat haar toestand verbeter het.
"Sy het regtig goed aangegaan, sy was reg vir teruggaan skool toe. Ons moes haar juis verlede jaar uit die skool haal omdat sy so moeg geraak het deur die dag. Sy was in Môrester."
Vir die hartseer ma het haar dogter op tye gelyk asof sy gesond word. "Ek het vir die dokter gevra of sy beter is, en hy het gesê Britney is baie beter. Ons het gereeld vir haar gaan kuier, wanneer dit moontlik was."
Britney is op 23 Januarie oorlede.
"Ek het haar nog die Saterdagoggend hospitaal toe gevat, toe wou hulle weer 'n pyp in haar longe sit. Uiteindelik was haar asemhaling onder beheer en hulle het besluit om nie die pyp in te sit nie. Maandagoggend het ek na haar toe gegaan, en sy het my net aangekyk. Ek moes teruggaan huis toe om na my ander dogter om te sien, en ek het nog vir haar gesê ek sal haar weer die aand kom sien, maar toe hoor ek van die suster Britney het 'n angsaanval gekry. Hulle het vir haar iets gegee en vir my gesê sy gaan nou rustig raak, en hulle sal my bel as daar iets gebeur," vertel die ma.
Voor sy weet is haar dogter die nag oorlede.
Beaulah het in 2019 haar 24-jarige dogter weens dwelmprobleme verloor, en in 2003 het sy haar 3-jarige seun verloor nadat hy verdrink het.
Britney was volgens haar ma 'n liefdevolle kind wat baie geliefd was deur almal wat oor haar pad gekom het.
"Sy was 'n stil kind en daar was nooit moeilikheid met haar nie. Sy het altyd geglimlag en sy het goed gedoen op skool. Sy het altyd geslaag. Sy sou verlede jaar haar matriek klaar geskryf het, maar toe word sy siek, so sy sou hierdie jaar teruggegaan het. Ons wou selfs iets anders uitwerk, maar haar wilskrag was sterk genoeg dat sy wou teruggaan skool toe. Sy was toe net een dag by die skool."
Beaulah het haar dogter by die huis gehou, en glo dat Britney van daar af agteruitgegaan het. "Sy wou onderwys gaan studeer na skool."
"My kind het altyd dankie gesê, 'dankie my ma vir alles wat jy gedoen het'. Ons laaste gesprek was oor skool gewees. Sy wou my trots maak."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’