OUDTSHOORN NUUS - Bridgton-rugbyklub se 2023-seisoen het verlede Saterdag op 'n hoë noot begin toe hul A-span dié van Blanco in George oortuigend met 24 - 8 geklop het.
Die wedstryd is voor 'n groot skare by Bridgton-sportterrein gespeel, en ofskoon dit 'n vriendskaplike wedstryd was, het die tuisspan gespeel asof hulle 'n punt het om te bewys.
Verroestheid en oorgretigheid in die eerste helfte het tot talle hanteerfoute gelei het en gevolglik was daar nie veel vir die uitgehongerde rugbyskare om oor te juig nie.
Albei spanne kon net voor rustyd daarin slaag om 'n drie elk te druk sowel as 'n strafskop wat Blanco benut het. Rustydtelling 8 - 5 in Blanco se guns.
In die tweede helfte het Bridgton egter stelselmatig hul ritme en kontinuïteit begin vind en siedaar, drie onbeantwoorde drieë teenoor geen punte in die tweede helfte van Blanco nie.
Weliswaar is dit moeilik om Bridgton-spelers uit te sonder vir uitstaande spel, maar tog moet die name van Jayde Taute en Frelimo September genoem word as spelers wat 'n behoorlike kopseer vir die verdedigers was.
Veral Taute se breekslag toe hy nonchalant deur die verdedigers gewals het, was een vir die boeke.
Ook die skrumskakel Willem Jaftha het 'n oomblik van individuele briljantheid beleef toe hy die opposisie aan die slaap gevang het en 'n losbal opgepik en vir bykans 50 m genael het vir ' n drie onder die pale.
Dan het Bridgton se voorry ook stewig in die skrum vertoon wat die grondslag gelê het vir kwaliteit voorvoetbal waarin hul giftige agterspelers gedy het.
Alhoewel een swaeltjie nie 'n somer maak nie, was dit 'n goeie begin en welkome herinnering aan die ondersteuners dat Bridgton steeds byt in hul blaf het.
Bridgton A se pntemakers is Charlston Ewerts (vleuel), Jayde Taute (losskakel), Jonathan Meyer (agsteman) en Willem Jaftha (skrumskakel) wat elkeen een drie gedruk.
Taute was ook in die kol met twee doelskoppe.
Bridgton B klop Blanco B 14 - 0.
Puntemakers is Dillon Fortuin (senter) en David Goliath (slot) wat elk een drie gedruk het. Jaden-Lee Moos (heelagter) was suksesvol met twee doelskoppe.
Bridgton C verloor teen Blanco C 12 - 14.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'