OUDTSHOORN NUUS - Die matriekleerders van Bridgton Sekondêr (BSS) was die week die eerste leerders van die skool wat skootrekenaars van die Wes-Kaapse onderwysdepartement ontvang het.
Die skool het 1 426 leerders waarvan 283 matrieks is.
Volgens Kelvin Ellis, skoolhoof, sal al die leerders van die skool teen die einde van die maand hul skootrekenaars ontvang.
Ellis het aan die Oudtshoorn Courant gesê dat BSS 'n modelskool is vir die nuwe e-leer-program van die Wes-Kaapse regering en die WKOD.
"Die tablette is nie die leerders se eiendom nie. Dit word jaar na jaar na nuwe leerders oorgedra. Die idee is net om toegang tot digitale onderrig te verbeter en beter hulpbronne aan die leerders te bied," het hy verduidelik.
Volgens Ellis kan die leerders aanlyn of aflyn of die skootrekenaars werk en is die leerders se handboeke per vak ook digitaal op die skootrekenaars beskikbaar.
Volgens Millicent Merton, woordvoerder van die WKOD, sal hulle en die Wes-Kaapse regering binne die volgende drie jaar die grondslag vir e-leer in die provinsie vaslê.
"Dit sal toegang tot digitale onderrig, leerhulpbronne en ondersteuning fasiliteer wat tot die visie van 'n hoogs geskoolde en hulpbrondoeltreffende samelewing vir almal sal bydra."
Merton het bygevoeg dat die skole wat die skootrekenaars ontvang het in drie kategorieë verdeel is.
"Universele skole sal aanvanklik basiese toegang tot die internet deur 'n rekenaarlokaal of 'n Inligtings- en Kommunikasietegnologie (IKT)-stelsel hê. Hier sal die regering leerders en onderwysers toegang tot digitale hulpbronne deur middel van WAN en sentrale WiFi-toegangspunte gee. Gevorderde skole is skole wat LAN het of dit gedurende hierdie spelwysigerstydperk sal ontvang. LAN fasiliteer toegang tot WAN en maak koordlose konnektiwiteit in die klaskamer moontlik. Modelskole sal die volle e-leeromgewing implementeer, e-leer in hul onderwyspraktyke integreer; e-inhoud ontwikkel en daartoe bydra en 'n e-kultuur vestig. Skole sal mettertyd van universele na gevorderde en dan na model skole vorder, hetsy deur die WKOD se bekendstellingsproses of eie of weldoenerbefondsing."
Agter, van links is Kelvin Ellis (hoof) en Wilmero Freeks (onderwyser). Voor is die hoofleiers van die skool: Donell April (hoofseun), Zoey Roodman (hoofmeisie), Amber Witbooi (onderhoofmeisie) en Janion Kennedy (onderhoofseun) met die skootrekenaars wat by die skool oorhandig is. Foto: Liezl van Niekerk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'